Krieketsterre bring hulde aan ‘ikoniese’ Rod Marsh

Die legendariese Rod Marsh. Foto: Twitter.

Rodney Marsh, die legendariese Australiese paaltjiewagter, is in die ouderdom van 74 in Adelaide dood nadat hy verlede week ’n hartaanval gehad het.

“Gevang deur Marsh, geboul deur Lillee,” is woorde wat gereeld op telkaarte in die 1970’s gepryk het.

Dennis Lillee was die vurige snelbouler, terwyl Marsh die bestendigheid vanself agter die paaltjies was. Terselfdertyd het sy akrobatiese vermoëns ook vir ’n paar verstommende vangskote gesorg.

Die paaltjiewagter het uiteindelik 96 toetse vir die Aussies gespeel waarin hy 355 kolwers terug na die kleedkamers gestuur het – ’n wêreldrekord wat eers ’n hele paar jaar later deur Ian Healy verbeter is.

Sy 118 lopies in die eerste toets teen Pakistan in 1972 was ook die eerste honderdtal deur ’n Australiese paaltjiewagter en hy het uiteindelik drie honderdtalle in sy loopbaan geslaan.

Ná sy uittrede was hy onder meer die hoof van Australië se nasionale akademie in Adelaide waar hy ’n beduidende rol in die loopbaan van sterre soos Ricky Ponting, Glenn McGrath en Brett Lee gespeel het.

Marsh was selfs vir ’n ruk een van Engeland se nasionale keurders en sy insae het toegesien dat die Bleekbene uiteindelik weer die Reeks om die As in 2005 gewen het.

“Hy was 74 jaar jonk. Die ou wat 96 toetse gespeel en amper 4 000 lopies geslaan het; nie net ’n legendariese speler nie, maar ook ’n legendariese mens. Hy was die tipiese Aussie wat kliphard gespeel het, maar ook ’n bier kon geniet het,” het Lee gesê.

Adam Gilchrist, wat in baie kringe as die beste paaltjiewagter nóg beskou word, meen Marsh is vir baanbrekerswerk agter die paaltjies verantwoordelik.

“’n Mens het altyd gedink dat niks ooit met Rod Marsh sal gebeur nie. Hy was my groot held en inspirasie – iemand wat ’n reuse-invloed op my loopbaan gehad het,” het Gilchrist gesê.

“Ek kan eintlik steeds nie glo dat iemand soos hy deel van my vriendekring was nie. Met tye het dit onwerklik gevoel – hy is immers een van daardie mense op TV wat soos superhelde vir ons was. Daar wag ’n emosionele tyd op baie mense.”

Pat Cummins, Australië se huidige kaptein, het in ’n huldeblyk gesê dat Marsh se afsterwe ’n groot leemte in Australiese krieket laat.

“Hy was een van Australië se grootste kriekethelde wat vir langer as 50 jaar die sport met ongelooflike trots gedien het. Wanneer ek aan Rod dink, dink ek aan iemand wat lief was vir die lewe en wie se positiewe lewensuitkyk ’n voorbeeld vir baie was.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.