Krim-skiereiland: Referendum-syfers klop nie

Etniese Russe vier fees na die voorlopige uitslae van die referendum. EPA

Etniese Russe vier fees na die voorlopige uitslae van die referendum. EPA

Terwyl die Weste sanksieplanne teen Rusland agtermekaar kry oor planne om die Krim-skiereiland by sy grondgebied in te lyf, hou pres. Wladimir Poetin van Rusland vol dat die proses volgens die internasionale reg geskied.

Poetin het in ‘n telefoniese gesprek met pres. Barack Obama die geval van Kosovo as voorbeeld gebruik. Daar het die Weste met sy optrede teen die pro-Russiese Serwië dit vir Kosovo moontlik gemaak om hom onafhanklik van Serwië te verklaar. Die internasionale geregshof het die reg om af te skei onder bepaalde voorwaardes goedgekeur, en die VSA is een van die lande wat Kosovo se onafhanklikheid erken. Rusland erken nie Kosovo se onafhanklikheid nie.

Die Weste meen onder meer omdat die Krim in effek deur Russiese soldate beset word, kon die referendum nie aan die vereistes van die internasionale reg geskied nie.

Meer as 80% van die Krim se stemgeregtigde inwoners het volgens die regering in die Krim aan Sondag se referendum deelgeneem, en daarvan het meer as 95% ten gunste van inlywing by Rusland gestem. Waarnemers verwerp dit, omdat etniese Russe net minder as 60% van die bevolking uitmaak, en verskeie groepe van die etniese Oekraïners en die Krim-Tatare aangedui het dat hulle die referendum gaan boikot.  Die syfers klop gewoon nie.

Die Krim stuur vandag reeds ‘n afvaardiging na Rusland om Poetin formeel om inlywing te versoek. Rusland het gesê dat sy parlement spoedig daaroor sal besin, maar vroeër het Rusland reeds aangedui dat die inlywing sal plaasvind.

Groot kommer bestaan dat Rusland nou ‘n soortgelyke taktiek in die ooste van die Oekraïne sal volg waar ‘n groot persentasie van die inwoners ook etniese Russe is, en pro-Russiese sentimente onder die Oos-Oekraïniers sterk loop. Daar was vroeër berigte dat Rusland ‘n dorp in Oos-Oekraïne beset het, maar dit is nie bevestig nie.

Hoewel daar kommer in voormalige Sowjet-Republieke soos Estland, Letland en Litaue met groot Russiese bevolkings is dat Rusland ook daar sal ingryp, meen sommige kenners dat dit onwaarskynlik is omdat dié lande weinig strategiese waarde vir Rusland inhou.

Bronne: Trouw, De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.