Krisis in Oekraïne verdiep – Moldawië ook ingesuig

Foto: AFP

Foto: AFP

Terwyl aktiviste in die stad Donetsk die regeringsetel bestorm en oorgeneem het en ‘n “republiek” uitgeroep het wat aansluiting by Rusland soek, het die “republiek” Transnistrië in Moldawië ook aangedui dat hy aansluiting by Rusland soek.

Transnistrië het met die uiteenval van die Sowjetunie in 1990 homself onafhanklik van Moldawië verklaar, maar dié onafhanklikheid word deur geen land erken nie, hoewel Rusland bande onderhou en 1 500 troepe in die land het.

Hoewel die Romeenssprekende bevolking in die gebied die grootste is, maak die etniese Russe en Oekraïners, wat nou-verwant is, in die gebied die oorgrote deel van die bevolking uit.

Die “land” het reeds in 2006 in ‘n referendum gestem ten gunste van aansluiting by Rusland. Die jongste uitsprake van die “president”, Jevgeni Sjevtsjoek, is die sterkste onlangse aanduiding dat daar beweging in dié rigting is.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het “toevallig” verlede week aangedui dat dit tyd geword het om ‘n duursame oplossing vir Transnistrië te vind.

Die opstandelinge in Donetsk, asook die stede Charkov en Loehansk, het dit duidelik gemaak dat hulle beplan om by Rusland aan te sluit, en indien nodig Rusland om militêre bystand sal vra. ‘n Referendum sal volgens hulle eers gehou word.

Die eerste minister van Oekraïne, Arseni Jatsenjoek, het gekla dat Rusland troepe dertig kilometer van die grens saamgetrek het en ‘n bedreiging vir sy land inhou.

Intussen het Rusland die Oekraïne gewaarsku om nie sy soldate teen die opstandelinge in te span nie. Volgens Rusland sal dit die Oekraïne in ‘n burgeroorlog dompel. Rusland het gewaarsku dat hy nie sal aarsel om sy weermag in te stuur om Russe in die Oekraïne te beskerm nie. Oekraïne het in veiligheidsoptrede verskeie van die opstandelinge gearresteer. Die VSA het op sy beurt Rusland gewaarsku om nie die ooste van die Oekraïne te destabiliseer deur die opstandelinge te ondersteun nie.

Bronne: Trouw, De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.