Kritiek oor Twitter-besluit om Trump af te skop

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: Evan Vucci/AP)

Die Duitse kanselier Angela Merkel glo die besluit deur sosialemediamaatskappye om die Amerikaanse pres. Donald Trump permanent van hul platforms af te skop, is problematies omdat vryheid van mening nie deur die hoofde van sulke aanlyn platforms bepaal behoort te word nie, het haar woordvoerder Maandag gesê.

Twitter het Vrydagaand aangekondig dat Trump, ʼn ywerige gebruiker, se rekening op dié platform permanent opgeskort is.

Voordat hy van die platform verbied is, het Trump meer as 88 miljoen volgelinge gehad.

Trump is in dié stadium ook “onbepaald” op Facebook en Instagram verbied weens sy “gebruik van [Facebook] om gewelddadige opstand teen ʼn demokraties verkose regering aan te blaas”, het die maatskappy ʼn dag tevore aangekondig.

“Die basiese reg op vryheid van uitdrukking is ʼn fundamentele reg van wesenlike belang en daar kan nie met hierdie reg ingemeng word op ʼn ander wyse as deur die wet en die raamwerk soos deur wetgewing bepaal nie. Dit kan nie ʼn besluit deur die bestuur van sosialemediaplatforms wees nie.

(Skermgreep: Twitter)

“Uit hierdie oogpunt beskou die kanselier dit as problematies dat die Amerikaanse president permanent versper word.”

Een van die Europese Unie (EU) se voorste amptenare oor tegnologiese beleid het intussen ook gesê Trump-ondersteuners se aanval op die Amerikaanse kongresgebou sal in die geskiedenis beskou word as sosiale media se sogenaamde 11 September.

“Net soos wat 9/11 ʼn paradigmaskuif vir wêreldwye veiligheid aandui, sien ons 20 jaar later ʼn voor-en-na-fase in die rol van aanlyn platforms in ons demokrasie,” het EU-kommissaris Thierry Breton op Politico geskryf.

Trump se verbanning op Twitter is uit sommige oorde verwelkom, maar het ook kritiek uitgelok – selfs van sommige van die president se teenstanders.

Volgens Breton dui die voorvalle in Washington op die “kwesbaarheid van ons demokrasieë – en die bedreiging wat tegno-maatskappye wat nie voldoende gereguleer word nie, vir hul voortbestaan kan inhou”.

Die voormalige Franse minister van finansies het ook sy bedenkinge gehad oor of sosialemediamaatskappye alleen die mag moet hê om ʼn Amerikaanse president te versper.

“Die feit dat ʼn uitvoerende hoof die draad uit [Trump se] luidspreker kan pluk sonder enige wigte en teenwigte is verbysterend,” het Breton geskryf.

“Dit is nie net bevestiging van die mag van die platforms nie, maar dit wys ook groot swakplekke in die manier waarop ons samelewing in die digitale ruimte opgestel is.”

Breton het ook die EU se onlangse voorstelle verdedig om groot tegnologiemaatskappye strenger te reguleer, onder meer met die Wet op Digitale Dienste, wat beteken platforms kan beboet word vir versuim om onwettige inhoud te stuit.

Nancy Pelosi, speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, het die afgelope naweek geëis dat Trump dadelik van sy amp onthef word.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Buks ·

Ek het nie Facebook of Twitter nie juis omdat hulle inbraak maak op mense se vryheid van spraak en probeer voorskryf hoe mense dink en voel oor n spesifieke saak. Hulle het ook hard gewerk om die uitslag van die amerikaanse verkiesing tot Biden se voordeel te beïnvloed.

john ·

Dit is n publieke forum wta sensuur toe pas op all behoudende dinkende mense. Hulle het nie die reg om sensuur toe te pas nie en hulle self n publieke forum te noem. Nou is hulle maar net n ver linkse organisasie wat propaganda versprei.. Dink Himmler Nazi germany

Karel Kobus Kruger ·

Dit smaak mos vir my asof Twitter en Facebook ook deur dieselfde groep mense besoek moet word as wat by die Capitol was…..

Fritz ·

Ek is verbaas dat bekendes (politici, sportsterre, filmsterre, ens.) nie hul eie persoonlike webwerwe skep nie. Dan kan hulle mos hul monde na hartelus uitspoel. Ongeag hoe links of regs jy is, iewers sal iemand bereid wees om jou webwerf te huisves. Of gebruik sommer jou eie server.

Oomniklaassevriend ·

Hoe pateties. Die president van die VSA word toegang tot sosiale media verbied maar terroristeleiers en mense met ‘n misdaadrekord is welkom

Human ·

Trump is ‘n die leier van sy terroriskommando, kla hom aan vir sedisie en ondermeining van die VSA demokrasie, wat hy ‘n eed voor afgelê het om te beskerm.

johb ·

Baie slippery slope ir sosiale media. Hipokraties as hulle begin regter speel oor rekeninge en hulle eie agebda te bevoordeel.

Jaco ·

Die sosiale media en media huise besluit wat se tiepe demokrasie goed is vir ons. Dit is amper as daar nie met die media saam gestem word nie ,dan is ander mense se opinie verkeerd.

AndréS ·

As dit gaan oor aanhitsing tot geweld, wat dan van die malemas ens wat openlik moord aanhits?

Ian ·

Dit is al hoe meer sigbaar dat hier n derde mag besig is vir trump so stil as moontlik te maak. Media netwerke het nou big brother geword maar vergeet dat daar baie ander gevalle oor die hoof gesien word soos bv malema se uitsprake en die terroriste sel groepe ens. Hulle rekeninge word nie opgehef nie. Hier is definitief n skroef los…. n grote

john ·

ek hoop twitter en facebook word vir biljoene gedagvaar en onder die kompetisie wet opgebreek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.