Kuberaanval op Transnet belemmer vervoer van goedere

(Foto: Untu)

Die Padvragvereniging (RFA) is baie bekommerd oor ʼn kuberaanval op Transnet. “Dit veroorsaak groot vertragings en onsekerheid wat betref die vervoer van goedere deur alle tipes vervoer, maar padvrag gaan die grootste hieronder gebuk.

Transnet het sy kliënte op 22 Julie in kennis gestel dat hy “tans ʼn probleem ervaar” met sommige van sy IT-stelsels en dat hy dit moes afskakel om die oorsaak van die probleem te bepaal.

Maroela Media het vroeër berig die maatskappy het Vrydag nie uitgebrei oor die aard van die onderbreking nie en hoewel hy dit nie in ʼn verklaring bevestig het nie, is sy IT-stelsel glo in ʼn kuberaanval gekraak.

“Ons het vandag bevestiging ontvang dat Transnet die oorsaak gevind het en dat tegniese span onverpoosd werk om seker te maak die impak is so klein as moontlik,” sê Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die RFA.

Die hekke van hawens is gesluit en dit beteken vragmotors kan nie in enige rigting beweeg nie. “Dit het ʼn onmiddellike effek. Die rye sal al langer word; aflewerings word vertraag en die opeenhoping sal vererger,” aldus Kelly.

“Die prosesse wat per hand uitgevoer moet word skep ook probleme wat betref bedrywighede. Padvragoperateurs het reeds ʼn groot agterstand weens verlede week se onluste. Die vertragings by hawens sal dié probleem vererger. Aflewerings sal onbetroubaar en onvoorspelbaar word – en verdere probleme aan die verskaffingsketting veroorsaak.”

Kelly sê die stelsel moet aangepas word om seker te maak dat só iets nie weer gebeur nie. “Intussen moet ʼn alternatiewe stelsel, selfs al is dit per hand, in plek gestel word om seker te maak dat vrag in en uit hawens kan beweeg. Die implikasie vir Suid-Afrika – in die kort- en langtermyn is ernstig. Oor die afgelope vyf jaar het ons hawens verder agteruitgegaan. In ʼn Wêreldbank-verslag wat vroeër vanjaar uitgereik is, is die Durbanse hawe aangedui as een van die swakste hawens in die wêreld – uit 351 hawens wat geassesseer is. Die impak van ʼn kuberaanval kan verdere reputasieskade aan Suid-Afrika berokken. Dit bedreig ons land se status as die ‘Poort na Afrika’ vir die invoer en uitvoer van goedere.”

Kelly sê as die kwessie nie dringend aangeroer word nie, sal probleme by die land se hawens net nóg ʼn rede wees waarom internasionale handelaars en verskepingsmaatskappye eerder van ander hawens in Afrika gebruik wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Phillip ·

En so word alles net duurder en duurder… en die mense verarm verder…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.