‘Kunstenaar’ aangekla wat op vlug beweer hy het koronavirus

Skermgreep uit ‘n video wat Gerald Frank van die voorval op Twitter gedeel het

ʼn Vlug tussen Toronto en Jamaika moes noodgedwonge omkeer toe ʼn man laat blyk hy het die koronavirus onder lede. Hy wou glo ʼn sensasiewekkende video maak.

James Potok (28) van Vaughan in Kanada, wat homself as ʼn kunstenaar beskryf, het gesê hy het opgestaan en onder andere aan die res van die 243 passasiers aangekondig dat hy pas van die “Hunan-provinsie teruggekeer het”.

Ondersoekbeamptes van die Peel-streekpolisie het Potok strafregtelik aangekla.

“ʼn 28-jarige man was Maandag om 12:59 op ʼn WestJet-vlug, op pad na Montego Bay, Jamaika, toe hy opgestaan en aangekondig het dat hy in China was en die koronavirus onder lede het,” het die polisie in ʼn verklaring gesê. “Die aankondiging is met die vlugbemanning gedeel en ʼn besluit is geneem om na Pearson-lughawe terug te keer.”

Mediese personeel het die man net ná 14:00 by Pearson-lughawe ondersoek en bevind dat hy nie enige simptome het nie.

Potok moet op 9 Maart 2020 in ʼn hof in Ontario verskyn.

“Enigiemand met inligting oor die ondersoek word versoek om met die ondersoekbeamptes in kontak te tree,” het die polisie bygevoeg.

James Potok (Foto: Skermgreep uit Global News-video)

Potok het intussen in ʼn onderhoud met Global News gesê hy wou net ʼn video maak wat soos ʼn veldbrand kon versprei op sosiale media. “Ek het my kamera by my gehad. Ek wou ʼn viral video maak. Ek wou dit op alle sosialemediaplatforms deel,” het hy gesê.

“As ek nou daaraan terugdink, was dit in swak smaak. Ek het opgestaan en gesê, ‘Kan ek almal se aandag kry? Ek het pas van Hunan-provinsie teruggekeer’, en dit was dit.”

WestJet wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie, om nie in te meng by die polisie se ondersoek nie.

Volgens Tiffany Richards, een van die passasiers, het Potok gesê hy het teruggekeer van Wuhan, die episentrum van die koronavirus. Hy het glo bygevoeg hy voel baie siek en hy dink hy is besmet. “Hy het gesê almal moet van hom af wegbly en nie naby hom kom nie. Hy het homself ʼn paar keer herhaal. En toe het hy weer gesit.”

Sy het dit ʼn “belaglike foefie” genoem en gesê dis ʼn groot frustrasie dat sy ʼn dag van haar vakansie misgeloop het.

Potok vlug glo ʼn paar keer per jaar na Jamaika en het onlangs ʼn soortgelyke aankondiging gemaak. “Ek het my selfoon uitgehaal. Ek het ʼn video geneem en gesê: ‘Kan ek julle aandag kry?’ Almal het na my gekyk. Ek het gesê, ‘Lil Wayne se nuwe album is sopas vrygestel. Almal moet dit gaan kry.’ Daar was nie enige probleem daarmee nie – ek het weer gaan sit en ons het geland. Almal het afgeklim, daar was nie enige probleme nie.”

Potok beskryf homself as ʼn kunstenaar. “Enige publisiteit is goeie publisiteit,” het hy bygevoeg. Hy erken egter dat dit wat hy gedoen het, verkeerd was. “Ek het die vlug vir ongeveer 200 mense geruïneer. Ek is baie jammer.”

Man who made fake coronavirus claim causing Toronto-Jamaica flight to return wanted to make viral video

A WestJet flight from Toronto to Jamaica was forced to turn back Monday after a passenger made an “unfounded claim regarding coronavirus.” Global News spoke with the passenger, James Potok, a self-described artist who said he stood up and announced to the plane that he had just returned from “Hunan province.” READ MORE: https://trib.al/llFu1RD

Posted by Global Toronto on Tuesday, February 4, 2020

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Rooijan ·

Die jong idioot moet so 6 maande agter tralies deurbring dat hy kan besef ander mense se lewens is nie sy speelplek nie. En hy moet die onnodige koste wat hy vir almal versoorsaak het terugbetaal al neem dit 10 jaar.

msp ·

Jy moet maar ń bietjie in die tjoekie gaan sit vir jou aandagsoekery.

Niklaas ·

Baie onvolwasse optrede van hierdie nar. Geen bedagsaamheid nie. Soveel ongerief vir talle. Het hy wraggies net n bietjie publisiteit gesoek ? Sluit die knaap toe vir 12 maande. Dit sal ander aandagsoekers dan ontmoedig.

ES ·

Ek sou darem maar nie dik van die lag gewees het as my vlug moet omdraai omdat ‘n “kunstenaar” so min respek vir ander passasiers het, dat hy almal moet verontrief omdat hy sensasie soek nie.

Kompas ·

Ek sal dit glad nie snaaks vind. Hy moet sommer van alle vlugte verbied word. Te veel sensasie soekers in die wêreld.

Bella ·

ek stem saam. enige iets vir ‘n bietjie aandag. mense besef nie meer dat daar nagevolge is vir hulle dade nie

Vriendelike Frikkie ·

As hy dan nou wel die Korona virus opdoen, sal sy optrede dan geregverdig wees?

Sandra ·

Die ou verstaan blykbaar nie die verskil tussen reg en verkeerd nie. Toe hy se lil wayne se nuutste cd is pas vrygestel, was dit nie so skadelik as om aan te kondig jy het die Korona virus nie, want baie mense is dood van dit. Dat hy nie kan verstaan hoekom niks gekom het van die lil wayne aankondiging in vergelyking met die korona virus aankondiging nie, spreek boekdele. Ek dink hulle moet hom opneem vir observasie om vas te stel of al sy varkies op hok is.

MammaVan Mayville ·

Hy lyk soos Harry Potter se boetie, die een wat ‘n skuins klap weg het van die windmeule

Jr ·

Daai gogga lyk nie asof sy hysbak na die boonste vloer gaan nie

Smurf ·

Hy gaan virseker n virus kry in die tronk kry aangesien hy so graag een wil he…

J ·

Miskien moet hulle hom soontoe stuur sodat hy kan weet hoe dit voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.