Kwaai inperking op partytjie-eiland Mykonos

Strenger inperkingsmaatreëls is op die gewilde Griekse eiland Mykonons ingestel om Covid-19-infeksies te stuit. Dié foto is in 2020 in Chora geneem. (Argieffoto: David Gannon/AFP)

Griekeland het Saterdag ʼn vyf uur lange aandklokreël en beperkings op die gewilde partytjie-eiland Mykonos geplaas weens ʼn “kommerwekkende” toename in plaaslike Covid-19-infeksies.

Die maatreëls sluit in ʼn aandklokreël van 01:00 tot 06:00 waartydens geen musiek in kroeë, klubs en restaurante gespeel mag word nie. Die regulasies tree dadelik in werking en geld tot 26 Julie, het Niko Hardalias, adjunkminister vir burgerlike beskerming, gesê.

“Ons doen ʼn beroep op inwoners, besoekers en sakelui van ons pragtige eiland om die maatreëls getrou na te kom sodat die verspreiding van die virus vinnig in bedwang gebring kan word en Mykonos na normaal kan terugkeer,” sê Hardalias.

Mykonos is een van Griekeland se voorste reisbestemming en lok jaarliks honderde duisende besoekers – ook bekendes – na sy prentjiemooi strande en besige naglewe.

Die Griekse owerhede is egter bekommerd oor ʼn toename in die getal skelm partytjies wat by die eiland se vele villas gehou word.

Hardalias sê die getal aktiewe gevalle op Mykonos het binne ʼn week verdriedubbel tot meer as 300.

Organiseerders van private partytjies kan met tot €200 000 (sowat R3,4 miljoen) beboet word.

Griekeland ondervind die afgelope paar dae ʼn toenemende styging in die getal Covid-19-infeksies. Dit word hoofsaaklik aangedryf deur die meer aansteeklike Delta-variant.

Sowat 2 700 nuwe gevalle is Vrydag bevestig in vergelyking met die minder as 400 wat net drie weke tevore aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Grieke breek borde as hulle partytjie hou. Hier breek hulle die hele fabriek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.