Kyk: Dit is dalk wêreld se grootste sandkasteel

Die struktuur is 21,16 m hoog. (Foto: Skulpturparken Blokhus/Facebook)

ʼn Span beeldhouers in Denemarke het verlede maand ʼn sandkasteel van ongeveer sewe verdiepings hoog voltooi. Dié kasteel is 3,5 m hoër as die vorige sandkasteelrekord wat in 2019 in Duitsland opgestel is, maar Guinness-wêreldrekords moet dit nog amptelik bevestig.

Volgens Kulturhuset Blokhus, die kulturele sentrum in Blokhus, Denemarke, waar die sandkasteel gebou is, is die struktuur 21,16 m hoog en het dit in totaal sowat drie miljoen in Deense kroon (DKK) gekos (byna R7 miljoen) om te voltooi. Meer as 6 000 ton sand is gebruik om dit te bou.

Karsten Nielsen, organiseerder van die sand-beeldhouwerkfees in Søndervig, het die bouwerk gelei saam met 16 van die wêreld se talentvolste beeldhouers. Altesaam 30 mense het aan die struktuur gewerk, maar dit is nie bekend hoe lank dit hulle geneem het om dit te voltooi nie.

Sowat 6 400 ton sand wat 10% klei bevat, is gebruik om die huidige struktuur te voltooi. Dié spesiale tipe sand is gebruik as ʼn tipe gom om die struktuur meer duursaam te maak. ʼn Ekstra laag gom sal later oor die kasteel aangewend word sodat dit vir die volgende ses maande staande kan bly.

“Ons het die beste sand ter wêreld; so as ons nie ʼn nuwe wêreldrekord kan opstel nie, kan niemand dit doen nie,” het John Anderson, uitvoerende hoof van Skulpturparken Blokhus, gesê.

Die kasteel is in ʼn driehoekvorm gebou met ʼn houtkonstruksie onderin, wat kunstenaars die geleentheid gegee het om figure in die sand te graveer.

“Ons het bekende plaaslike bakens van Blokhus, Jammerbugten en Noord-Jutland in die beeldhouwerk van die kasteel geïnkorporeer. Ons het byvoorbeeld die vissersbote van Thorupstrand, vakansiehuise langs die Weskus en die beroemde mark in Blokhus by die beeldhouwerk ingesluit.”

Die publiek kan die kasteel vir die volgende ses maande gratis besoek. Die kasteel sal na verwagting begin verbrokkel soos die winter nader kom.

A walk around the tallest castle in the world. Pretty proud to take part on this gig!! Thanks to everyone for their effort.

Posted by Wilfred Stijger on Tuesday, July 6, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karina ·

Ongelooflike kunswerk uit sand! Fantasties en dit moet iets wees om persoonlik te kan aanskou. Wel gedaan Denemark!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.