Kyk: Emirates bereik ‘nuwe hoogtes’ met advertensie

‘n Kajuitpersoneellid aan die bopunt van die Burj Khalifa in Dubai. (Foto: Emirates)

Emirates het as’t ware nuwe hoogtes bereik met ʼn advertensie waar een van hul kajuitpersoneel in volle uniform aan die bopunt van die Burj Khalifa in Dubai staan. Dié gebou is 828 m hoog.

Die advertensie van 30 sekondes  wys hoe ʼn lugwaardin verskeie boodskapborde vashou wat mense aanmoedig om met Emirates te vlieg. Kort voordat die video eindig, sien die gehoor dat die personeellid eintlik aan die bopunt van die hoogste gebou in die wêreld staan met ʼn panoramiese uitsig van Dubai.

Volgens Emirates is dit een van die hoogste advertensies wat ooit verfilm is.

Net ʼn handvol mense het al aan die bopunt van dié ikoniese gebou gestaan, onder wie Tom Cruise en die kroonprins van Dubai, sjeik Hamdan bin Mohammed bin Rashid Al Maktoum.

“Ons streef altyd daarna om die norm uit te daag en grense by Emirates te verskuif. Ons is trots daarop dat ons een van ʼn paar bevoorregtes is wat toegelaat is om op die Burj Khalifa te verfilm; en nog trotser dat ons ons pragtige stad, Dubai, ten toon kan stel,” het Tim Clark, president van Emirates Airlines, gesê.

(Foto: Emirates)

Die advertensie is verfilm sonder ʼn groenskerm of spesiale effekte en is die resultaat van deeglike beplanning, opleiding, toetsing en ʼn streng veiligheidsprotokol.

Enigeen van die kajuitpersoneel kon ʼn oudisie vir die hoofrol in die advertensie aflê. ʼn Personeellid wat ook ʼn professionele valskermspringinstrukteur is, het uiteindelik die rol losgeslaan omdat die lugredery gemeen het dat sy die beste gekwalifiseer sou wees om enige krisissituasies tydens die verfilming van die advertensie te hanteer.

Dit het Emirates-spanne ʼn uur en 15 minute geneem om vanaf vlak 160 van die Burj Khalifa tot bo te klim. Verskeie lere is deur ʼn buis tot bo gehys. Die filmspan en kajuitpersoneellid was vir sowat vyf ure aan die bopunt van die gebou, terwyl sy aan verskeie punte met ʼn veiligheidsgordel vasgemaak was. ʼn Platform is ook aan die bokant van die gebou vasgemaak, waarop sy gestaan het.

ʼn Enkele hommeltuig is gebruik om die beeldmateriaal te verfilm. Die advertensie gaan glo aangepas word vir wêreldwye markte in die Emirates-netwerk.

Emirates het ʼn agter-die-skerms-video vrygestel wat wys hoe hulle by die bopunt van die Burj Khalifa uitgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

Die lugbesoedeling oor Dubai is nie juis ‘n goeie advertensie nie.

Sêmanet

Sy het seker baie kalmeerpille voor die tyd gedrink.

Mieke

Dalkies vir R10mil …. Baie dalkies!!

Kokerboom

Eish!!! Nie sommer!!!!

Vrijburger

Wow, puik reklame.