Kyk: Familie, bekendes neem afskeid van Warne

Shane Warne se begrafnis vind by die Melbourne Cricket Ground plaas. (Foto: Aaron FRANCIS / AFP)

Australiërs het vandag (Woensdag) tydens ’n staatsbegrafnis afskeid geneem van die legendariese bybreekbouler Shane Warne.

Warne se seun Jackson het gesê daar is geen beter plek om van sy pa afskeid te neem nie as die indrukwekkende Melbourne Cricket Ground (MCG) waar na verwagting 65 000 mense die herdenkdiens sou bywoon.

Legendariese krieketspelers soos Brian Lara, Ian Botham en Wasim Akram was glo teenwoordig terwyl bekendes soos Elton John, Ed Sheeran, Chris Martin en Robbie Williams ter gedagtenis aan Warne sou sing.

Jackson het vroeër aan Australiese verslaggewers gesê dit is vir die familie spesiaal dat hul geliefde pa en seun se begrafnis by die MCG gehou word. Dit is immers hiér waar Warne in 1994 van Phil DeFreitas, Darren Gough en Devon Malcolm ontslae geraak het om ’n driekuns op sy tuisveld te neem. Hy het ook in 2006 sy 700ste toetspaaltjie by die MCG laat spat.

“Ons was gelukkig genoeg om ons hele lewe hierheen (na die MCG) te kom en hom te sien speel en baie harde werk op hierdie einste terrein in te sit, het Jackson gesê. “Pa was altyd lief vir ʼn skare, om ʼn skouspel te lewer… Ek dink, op ʼn hartseer dag soos vandag, sal dit nie so hartseer wees met meer mense hier nie.”

Warne se familie, vriende en spanmaats het op 20 Maart tydens ’n private begrafnis van hom afskeid geneem.

Die krieketspeler is vroeër vandeesmaand by ’n vakansieoord in Thailand dood – vermoedelik aan ’n hartaanval. Hy was 52 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sênet

Rest in peace

Lollapop

So tragies, hy kon nog soveel vir jong spelers beteken het, die stoutseun van krieket

Esme

Shane Warne – die tipe wat ons almal ‘gehaat’ het op die krieketveld, maar tot bewonder het, vir sy vaardigheid. Aai, hoe kan ‘n mens aan Shane dink, sonder om ook Hansie Cronje in herhindering te roep. Twee legendes van hulle eie tyd.
Rus sag, Shane! Ek glo, dat jy vir jou land gesterf het.