Kyk hier na koninklike troue

(Foto: Twitter/Kensington-paleis)

Miljoene mense oor die hele wêreld slyp al weke lank hulle tande vir prins Harry en Meghan Markle se groot dag en die afwagting is uiteindelik verby.

Harry en Meghan word vandag by die St. George-kapel in Windsor in Engeland in die eg verbind. Die seremonie sal deur die dekaan van Windsor, hoof van die St. George-kapel, gelei word en die aartsbiskop van Canterbury sal waarneem wanneer die koninklike egpaar hul troubeloftes voorlees.

Regstreekse beeldmateriaal van die troue sal dwarsdeur die dag op ʼn reeks aanlyn platforms te sien wees.

Die multimedia-dekking is in ooreenstemming met die paartjie se wense om die troue so toeganklik moontlik vir soveel moontlik mense te maak.

SABC-kykers kan om 09:30 inskakel op SABC 3 vir die regstreekse uitsending van die troue.

DStv-intekenaars kan om 10:25 op ITV, kanaal 123, inskakel vir die regstreekse uitsending van die troue. BBC Lifestyle, kanaal 174, saai ook die troue regstreeks uit van 10:00 af. CNN International op kanaal 401 saai ook die troue uit van 10:00 af. BBC World News, kanaal 400 saai om 11:00 uit, Sky News, kanaal 402, beeldsaai ook die troue van 10:00 af terwyl E! Entertainment op kanaal 124 die troue regstreeks uitsaai van 11:00 af en dit weer van 16:00 af herhaal.

Aankondigings, geskiedkundige inhoud en agter-die-skerms-beeldmateriaal kan op die amptelike trouwebwerf, The Wedding of Prince Harry and Ms. Markle, gevind word.

Uittreksels van betekenisvolle oomblikke en foto’s word op The Royal Family Facebook-bladsy gedeel.

Hou Maroela Media dop vir ʼn YouTube-skakel wat ook regstreeks die troue sal beeldsaai deur The Royal Channel van 12:00 af.

Bron: Royal.uk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.