Video: Minister swem 12 uur na strand toe helikopter val

Die minister van polisie nadat hy 12 ure lank na die strand geswem het. (Foto: Skermgreep/ Twitter)

ʼn Minister van Madagaskar en ʼn lid van die land se polisie het 12 uur lank na die strand geswem nadat die helikopter waarin hulle gereis het, in die see neergestort het.

Die helikopter, met vier passasiers, het Maandag langs die kus van Madagaskar neergestort en die minister en ʼn ander insittende kon hulself uit die helikopter werp. Die soektog na die ander twee passasiers duur nog voort.

Serge Gelle, die land se sekretaris-generaal van polisie, en sy medepassasier het die kusdorp Mahambo Dinsdag bereik, het die hoof van die hawebestuur, Jean-Edmond Randriantenaina, aan AFP gesê. Die minister het glo aan een van die helikopter se stoele vasgehou om hom te help om bo die water te bly.

Volgens die polisie is dit nog nie duidelik hoekom die helikopter neergestort het nie.

ʼn Video wat op sosiale media gedeel is, wys die 57-jarige Gelle wat uitgeput op ʼn dekstoel lê, steeds in sy kamoefleer-uniform geklee.

“My tyd het nog nie gekom nie,” sê die minister in die video. “Ek is koud, maar het nie seergekry nie.”

Volgens Zafisambatra Ravoavy, polisiehoof van Madagaskar, het die minister nog altyd uitsonderlike stamina getoon. “Hy is ʼn man van staal.”

The Guardian berig die helikopter het die minister en ander insittendes na die toneel van ʼn skeepswrak noordoos van die skip geneem. Maroela Media het vroeër berig minstens 64 mense is in dié ramp dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.