Kyk: Motor vlieg tussen stede

(Foto: Klein Vision)

ʼn Prototipe van ʼn vlieënde motor het verlede maand sy 142ste toetsvlug tussen twee stede in Slowakye voltooi. ʼn Tweede prototipe van dié motor is reeds in sy ontwikkelingsfase, met die hoop dat dit binnekort op grootskaal geproduseer kan word.

Die maatskappy Klein Vision het met die konsep van die sogenaamde AirCar vorendag gekom en dit ontwikkel. Volgens die maatskappy het die AirCar op 28 Junie tussen die internasionale lughawe in Nitra en die hoofstad, Bratislava, gevlieg.

Die vlug het in totaal sowat 35 minute geduur en die motor het na afloop van die vlug net drie minute geneem om in ʼn sportmotor te verander.

“Klein Vision gaan dit moontlik maak dat almal eendag gebruikersvriendelike vlieënde karre het. Die outomatiese oorgang van ʼn motor na ʼn vliegtuig en omgekeerd is nie net die gevolg van ʼn baanbrekergeesdrif en innovasie nie, maar ook ʼn resultaat van uitstekende ingenieursvernuf,” het dr. Branko Sarh, seniortegnikus by Boeing, gesê.

Dié prototipe is toegerus met ʼn 160 pk. BMW-enjin met ʼn skroef en ʼn valskerm.

Onder die toesig van Slowakye se burgerlugvaartowerheid het die AirCar-prototipe meer as 40 uur se toetsvlugte voltooi, insluitend steil 45 grade draaie en stabiliteit- en beweegbaarheidstoetse. Die kar was al so hoog as 2 500 m bo seespieël en het ʼn maksimum spoed van 190 km/h bereik.

Die AirCar-prototipe II, wat die voorproduksiemodel is, sal toegerus wees met ʼn 300 pk.-enjin en sal volledige vliegtuigsertifisering én ʼn padpermit hê. Met sy opgedateerde skroef sal dié model na verwagting ʼn spoed van 300 km/h kan bereik en ʼn reisafstand van 1 000 km hê.

“Hierdie prototipe baan die weg vir ʼn nuwe era van vlieënde motors. Dit skep ʼn nuwe kategorie van vervoer en gee individue die vryheid wat oorspronklik aan motors toegeskryf is, terug,” het prof. Stefan Klein, medestigter van Klein Vision, gesê.

“AirCar is nie meer net ʼn konsep nie, dit het fiksie ʼn werklikheid gemaak,” het Anton Zajac, medestigter van Klein Vision, bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kokerboom ·

Ideaal om taxis te ontduik. Moet asb net nie lisensies aan hul uitreik.

Niklaas ·

Eerstens sal ‘n vlieglisensie na opleiding ‘n noodsaaklikheid wees. Dan sal die item sekerlik onbekostigbaar duur wees

Jannie van Niekerk ·

Dit sal glad nie in Sud Afrikaa werk nie. Hier is hopeloos te veel “ongelisnsieerdes ” wat agter vgoertuie se stuurwiele sit.

Cherokee ·

Ag in SA kan die mense nie eens skryf nie, watwo vlieënierslisensie verwerf.

Vonkprop ·

Hierdie is ‘n vliegtuig en nie ‘n kar nie. Hoe wil jy met die ding op die pad ry met daardie vlerke? As die vlerke wegvou sal dit sin maak maar anders kan jy net met hom op aanloopbane ry.

Phillip ·

Lees die berug weer Vonkprop dan sal jy verstaan hoekom diumpies af wys

Vonkprop ·

Jammer ek erken ek het nie gesien die vlerke kan wel wegvou nie, maar ek bly by my siening dat dit ‘n simpel gedagte is. As jy in verkeer sit, het jy spasie nodig vir die vlerke om uit te kom. Jy het seker ook ‘n redelike oop spasie voor jou nodig om te kan opstyg en waar anders sal jy kan land as by ‘n lughawe, dis nie asof jy vinnig voor jou mall kan stop vir inkopies nie. So dit bly ‘n vliegtuig 99% van die tyd.

Jack ·

Yo yo. Vir die eerste wereld lande fantasties. Vir afrika groot moeilikheid. Ons sukkel om die dood van die paaie af te hou en nou die lug?

Karina ·

My tyd, dit is nou ‘n ding die – kar na vliegtuig terug na ‘n kar. Ten spyte van negatiewe gedagtes, vind ek dit sowaar, soos jonges dit stel : “cool” Dit is definitief nie vandag se voertuig nie maar ver in die toekoms in.

Ansie ·

Dit is waarlik ‘n fantasié wat waar geword het en ek haal my hoed vir die ontwikkelaars af, maar as mense nie eens veilig kan ry op paaie met strepe, padtekens, sirkels, robotte, ens. nie, wil ek nie die gemors aanskou wat hulle in die lug gaan aanvang nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.