Kyk na ons kinders, vra ouers wat dae ná mekaar sterf

Mike (57) en Julie Bennet (50) Foto: CBS/Deur die familie verskaf

Mike (57) en Julie Bennet (50) Foto: CBS/Deur die familie verskaf

Meer as £199 000 (ongeveer R3 miljoen) is in die bestek van ʼn paar weke deur weldoeners wêreldwyd ingesamel nadat die ouers van drie jong kinders van Merseyside in Engeland onlangs enkele dae ná mekaar oorlede is.

Oliver (13), Hannah (18) en Luke Bennet (21) is oorval met boodskappe van bemoediging en gebede nadat hul ouers, Mike (57) en Julie (50), verlede week oorlede is.

Die gesin het op hul GoFundMe-blad gesê Mike veg al langer as drie jaar teen ʼn gewas op sy brein. Hoewel hy behandeling daarvoor ontvang het, het die gewas net bly groei.

Julie het hom tuis versorg toe dokters gesê het dat hy nie meer lank sal leef nie. Sy is egter in Julie verlede jaar met nier- en lewerkanker gediagnoseer. Die kanker het later na haar hele liggaam versprei.

“Dit was ongelooflik moeilik vir haar om na hom om te sien toe sy self siek geraak het, maar sy het steeds elke dag uit liefde na hom gekyk. Selfs toe hy nie eens meer die trappe kon klim nie, het sy vir hom ʼn bed gemaak in die sitkamer op die grondverdieping en langs hom op die bank geslaap,” skryf hulle.

Die egpaar is begin Februarie in dieselfde hospitaalkamer geplaas waar hulle vir die laaste keer saam was voor Mike op 6 Februarie oorlede is. Julie is vyf dae later oorlede.

Oliver (13), Hannah (18) en Luke Bennet (21) Foto: GoFundMe

Oliver (13), Hannah (18) en Luke Bennet (21) Foto: GoFundMe

ʼn Woordvoerder van die gesin, Heather Heaten Gallagher, het intussen die GoFundMe-blad gestig om te verseker dat die kinders verder onderrig sal kan kry wanneer hul ouers nie meer daar is nie.

Dié blad het intussen derduisende rande vir die gesin ingesamel om te verseker dat hulle lewe “so normaal moontlik kan voortgaan” sonder hul ouers.

Gallagher het aan CBS News vertel die kinders is gebroke, maar dankbaar vir die manier waarop vreemdelinge hul harte oopgemaak het.

“Ná haar man oorlede is, was sy bang haar kinders gaan nie oukei wees nie. Ek het vir haar gesê die gemeenskap sal saamstaan en help om hulle groot te maak, selfs al moet dit ʼn groepspoging wees. Sy het haar oë oopgemaak en geglimlag.

“Die waarheid is dat niks jou kan voorberei op die seer en die wroeging wanneer jou ouers dae ná mekaar sterf nie. Maar weldoeners wat hul harte oopgemaak het vir die kinders, verseker dat geen geleentheid van hulle af weggevat word nie. Nou kan hulle net rou en hoef nie bekommerd te wees oor die dinge wat volwassenes kwel nie.”

Vir meer inligting, besoek die GoFundMe-blad.

Bron: CBS News, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dellaq ·

Baie hartseer om jou ouers te moet verloor so na mekaar en waste wroeging die ouers moes deurgaan om te besef hulle kinders bly alleen agter. Ek haal my hoed af vir die gemeenskap en weldoeners wat die kinders so wonderlik bystaan.

afrikaans ·

Daarom moet ons altyd mooi lewe met mekaar…veral met ons vriende. Mooi storie en tog so hartseer. Dankie vir die omgee vir ander

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.