Kyk: Robotte pak gewaagde toertjies aan

Een van die Atlas-robotte in aksie. (Foto: Boston Dynamics)

Die robotvervaardiger Boston Dynamics het die jongste video van sy tweebenige robotte uitgereik waarin hulle gewaagde toertjies op ʼn hindernisbaan uitvoer. Nie elke probeerslag is egter suksesvol nie en dié hoogs mobiele robotte slaan menige keer op die vloer neer.

In die video kan gesien word hoe ʼn robot by ʼn reeks houtpanele op hardloop, oor ʼn gaping spring en by trappe op en af hardloop. Die tweede robot voltooi die hindernisbaan in die omgekeerde volgorde voordat albei eindig met ʼn gesinchroniseerde toertjie.

Dié robotte is van die wêreld se mees mobiele robotte met 28 hidrouliese gewrigte. Hulle kan snelhede van 1,5 m per sekonde bereik en met ʼn gewig van 89 kg is hulle spesifiek ontwerp om ʼn mobiele tweevoetige robot te wees.

“Hoewel ʼn robot se vermoë om allerhande toertjies te doen nooit ʼn nuttige vaardigheid sal wees nie, is dit ʼn belangrike aanduiding dat hulle dieselfde omvang van bewegings as mense het,” het Scott Kuindersma, spanbestuurder van die Atlas-projek by Boston Dynamics, gesê.

“As robotte uiteindelik met dieselfde vaardigheid as die gemiddelde volwasse op hul omgewing kan reageer, sal die moontlikhede feitlik onbeperk wees.”

Volgens Kuindersma was daar verskeie tegniese uitdagings daaraan verbonde om die robotte, genaamd Atlas, dié soort behendigheid te gee.

“Ons kontrolespan moes komplekse algoritmes skryf wat ʼn kombinasie van hoë-energie- en gekoördineerde gedrag kan simuleer.”

Die kontrolespan by Boston Dynamics het besluit om sogenaamde Parkour-oefeninge te gebruik om die robotte se vaardighede op die proef te stel.

“Dit is ʼn aktiwiteit wat vereis dat die hele liggaam saamwerk. Die toertjies het die Atlas-robotte forseer om hul balans in verskillende situasies te behou en moeiteloos van een beweging na ʼn ander oor te skakel. Dit gaan eintlik daaroor om bewegings te simuleer wat die perke van die robotte se vermoëns toets,” het Kuindersma gesê.

Hoewel die hindernisroetine skynbaar glad verloop het, het dié robotte in der waarheid meer as een keer gestruikel in die proses om die roetine te vervolmaak.

Atlas-tegnologie se komediant en vermaakster, Kyle Hill, het ʼn video op Twitter gedeel van die Atlas-robotte wat herhaaldelik val terwyl hulle poog om die Parkour-roetine te voltooi.

In die video kan gesien word hoe die mobiele robotte probeer hardloop, maar verskeie kere dramaties op die vloer neerslaan. Die robotte se pogings om oor ʼn houtbalk te spring of balans te hou ná ʼn toertjie, het ook herhaaldelik misluk.

“Onthou wetenskap is steeds moeilik,” het Hill gegrap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanncb ·

Gelukkig is daar geen lewensverlies wanneer ‘n robot val en breek nie. Slegs die vervaardiger se ego word gekrenk!

koos ·

Is ek die enigste een wat bekommerd raak as ek sulke goed sien? Wat bly is maar ook bekommerd is as ek hoor hoe kunsmatige intelligensie ingespan word om die ontwikkeling van vaksienes te bespoedig? Kyk verby al die pragtige toertjies en sagteware roetines en sê my wat jy in die toekoms sien?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.