Kyk! Rocker Rod Stewart vul self slaggate

Rod Stewart het genoeg van slaggate gehad. (Foto: @sirrodstewart/Instagram)

Inwoners van die Harlow-omgewing in Essex, Engeland, se motors is ʼn bietjie veiliger danksy ʼn ridder in ʼn rooi Ferrari.

Die rock-legende sir Rod Stewart het genoeg van slaggate en die swak toestand van paaie in sy woonbuurt gehad en besluit om die saak in eie hand te neem.

Die 77-jarige het onlangs foto’s en video’s op Instagram gedeel waar hy en ʼn span al singend slaggate op ʼn plaaspad skoonmaak om gevul te word. Hy het in sy plasing geskryf dat “om vir ’n lewe te werk en gate te vul is goed vir die siel!”

In een video sê die “Maggie May”-sanger dat hy genoop is om die straat waar hy woon, self te herstel “want niemand gee genoeg om om dit te doen nie”.

“Mense beskadig gedurig hulle motors. ʼn Ambulans se bande het onlangs op dié pad gebars en ek kan glad nie met my Ferrari op dié pad ry nie. Ek en die manne het besluit ons sal dit maar self doen,” het die pa van agt, geklee in ʼn swart sweetpak en glimbaadjie, in sy video gesê.

Alhoewel lede van die publiek Stewart se selfdoenbenadering op sosiale media geprys het, het ’n woordvoerder van Essex Highways aan ITV gesê dat hulle “Sir Rod” se toewyding om sy gemeenskap te verbeter waardeer, maar dat lede van die publiek liefs nie paaie self moet probeer herstel nie omdat hul “sonder behoorlike verkeersbestuur en ander spesifieke veiligheidsmaatreëls hulself in gevaar stel”.

Kevin Bentley, adjunkleier van Essex se munisipale raad, het aan die BBC gesê dat dié pad sedert Stewart se ingryping geïnspekteer is en daar is ooreengekom dat dit herstel moet word, ondanks die munisipaliteit se “finansiële beperkings”. Volgens Bentley sal die paaie in Junie oorgeteer word.

Bronne: BBC, ITV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Buks ·

Wil “Sir Rod” nie maar dalk by ons ‘n paar paaie kom probeer regmaak sodat die wereld ook kan kennis neem van die toestand in Suid – Afrika nie?

Pieter ·

En ons is geneig om te dink dis net in Suid-Afrika waar dinge so agteruitgaan……..

Windhond ·

Dit is moontlik n wereldwye probleem, -maar ons land de slaggate is in n klas van sy eie

Johan ·

Blykbaar was hy ñ grafgrawer gewees voor hy ster status bereik het. Nou op sy oudag gooi hy weer gate toe. Lol!

Marianna ·

Ja Sir Rod, steek die jonges in die skande en terwyl jy dit doen bly fiks en sing vir ons.

OW ·

Waar is die dae van “Sailing” Soos David Gresham destyds gesê het “Rodney Stewart”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.