BBC dok miljoene op vir omstrede Diana-onderhoud

(Foto: Jean-Loup Gautreau/AFP)

Die BBC het besluit om die verkoopsopbrengs van sy 1995-onderhoud met prinses Diana aan liefdadigheid te skenk nadat dit op die lappe gekom het dat die prinses destyds deur ’n joernalis mislei is om dié opspraakwekkende onderhoud toe te staan.

Die Britse uitsaaireus het Vrydag gesê hy het altesaam £1,42 miljoen (sowat R28 miljoen) aan sewe liefdadigheidsorganisasies geskenk wat met die prinses verbind word. Dit sluit in die hawelose liefdadigheidsorganisasie Centrepoint, die English National Ballet, Great Ormond Street Hospital Children’s Charity, The Leprosy Mission en die National AIDS Trust.

“Gegewe die bevindinge van lord John Dyson, dink ons dit is die regte en gepaste optrede,” het die BBC vroeër vandag gesê.

Dyson, ’n afgetrede senior regter, het in ’n onafhanklike verslag – wat in Mei uitgereik is – bevind dat die BBC-joernalis Martin Bashir destyds vir Diana doelbewus om die bos gelei het sodat hy ’n onderhoud met haar kon voer.

’n Rekordgetal van 22,8 miljoen mense het destyds na dié opspraakwekkende onderhoud gekyk waarin Diana onthul het dat daar “drie mense in haar huwelik” was – sy, prins Charles en sy minnares en huidige vrou, Camilla Parker-Bowles.

Sy het ook in dié onderhoud bely dat sy ’n buite-egtelike verhouding gehad het.

Daar het lank daarna vrae geheers oor hoe Bashir vir Diana oorreed het om aan die onderhoud deel te neem. Bashir was in daardie stadium nie baie bekend nie, maar het daarna ’n hoëprofielloopbaan op Amerikaanse televisienetwerke geniet en onderhoude met sterre soos Michael Jackson gevoer.

Luidens Dyson se verslag het Bashir destyds vervalste bankstate gebruik om dit te laat blyk dat sommige van Diana se naaste assistente deur sekerheidsdienste betaal is om haar dop te hou.

Bashir het die bankstate aan Diana se broer, Charles Spencer, gewys sodat hy ’n ontmoeting tussen hom en Diana kon reël en hy haar vertroue kon inwin.

Bashir het intussen om verskoning vir sy optrede gevra. Hy hou egter vol dat die vervalste bankstate hoegenaamd geen invloed op Diana se keuse gehad het om die onderhoud toe te staan nie.

Diana en Charles is in 1996 geskei. Diana is die jaar daarna op 36 jaar in ’n motorongeluk in Parys, Frankryk, dood toe paparazzi (steelfotograwe) haar agtervolg het.

Charles is in 2005 met Camilla getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.