Kyk: Vlieënier gered net voor trein teen wrak bots

‘n Skermskoot uit die video.

ʼn Vlieënier van die VSA het Sondag ʼn noue ontkoming gehad toe hy uit wrakstukke gered is, enkele sekondes voordat ʼn trein oor sy neergestorte vliegtuig gery het.

Die nuuskanaal ABC7 het vroeër berig dat die klein vliegtuig minute voor die voorval op ʼn treinspoor in Los Angeles neergestort het, nadat dit glo skielik krag verloor het.

Die vliegtuig het naby die Whiteman-lughawe neergestort – ook enkele kilometers van die Foothill-polisiestasie. Die vlieënier was die enigste insittende.

Beeldmateriaal wat deur die Los Angeles-polisiedepartement (LAPD) vrygestel is, wys hoe beamptes sukkel om die beseerde vlieënier uit die wrakstukke te bevry.

Oomblikke later word die man van die vliegtuig af weggetrek terwyl ʼn trein teen die wrakstukke van die vliegtuig bots.

ʼn Video wat deur ʼn omstander geneem is, wys hoe mense koes terwyl dele van die wrak in alle rigtings spat.

Volgens ABC News het die Los Angeles-brandweer die beseerde vlieënier na ʼn traumasentrum vir behandeling geneem. Die omvang van sy beserings is egter nog nie bekend nie.

Die LAPD het intussen die betrokke beamptes se heldhaftige pogings om die man te red, geprys.

“Beamptes van die Foothill-afdeling het heldhaftigheid en blitsige optrede aan die dag gelê deur die lewe van ʼn vlieënier wat ʼn noodlanding op ʼn treinspoor gedoen het, te red.”

Die LAPD Valley Bureau het vroeg Maandagoggend gesê dit blyk dat die vliegtuig krag verloor het kort nadat dit opgestyg het. Die vlieënier was toe genoop om ʼn noodlanding te doen, wat daartoe gelei het dat die vliegtuig op die treinspoor neergestort het.

Die voorval word steeds deur owerhede ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Richard ·

Wow! Dit kry mens as daar ‘n behoorlike polisiemag is. I n S.A. sou die polisie te laat gewees het, of dalk glad nie gegaan het na die toneel nie.

Anton J ·

Ag Richard, jy veralgemeen. Word jy ‘n polisieman toe……

Marius ·

Noue ontkoming danksy flink polisie optrede. Dis net ‘n mite in sa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.