Laaste Everly-broer sterf

Don en Phil Everly. (Foto: Facebook/The Everly Brothers)

Don Everly van die rock-duo The Everly Brothers, is Saterdag by sy huis in Nashville, Tennessee, in die ouderdom van 84 dood.

ʼn Familielid het die nuus aan The Los Angeles Times bevestig, maar die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.

Everly se broer, Phil, is in 2014 in die ouderdom van 74 weens ʼn hartkwaal dood.

Don en Phil het as The Everly Brothers ʼn hele rits treffers in die 1950’s en 1960’s uitgereik. Dit het ingesluit “Bye bye love” en “All I have to do is dream”.

Hulle was bekend vir hulle harmonieë en het groepe soos The Beatles en Simon and Garfunkel beïnvloed.

Die broers het in 1973 ʼn uitval op ʼn verhoog in Kalifornië gehad, waartydens Phil sy kitaar op die verhoog gebreek en weggestap het.

Dit het gelei tot ʼn dekade lange vervreemding tussen die broers. Phil het egter later aan Time gesê hulle het die strydbyl begrawe.

Hulle het in 1983 herenig vir ʼn konsert in Londen, Engeland, en het nog ʼn album uitgereik.

Don en Phil Everly. (Foto: Facebook/The Everly Brothers)

“Don het geleef volgens dit wat hy in sy hart kon voel. Hy het sy waardering uitgespreek vir die geleentheid om sy drome uit te leef saam met sy sielsgenoot en vrou, Adela, en die musiek wat van hom ʼn Everly Brother gemaak het,” lui ʼn verklaring.

Die Everly-broers was die kinders van country en western-sangers en het tydens hulle grootwordjare op die familie se radioprogram verskyn.

Op hulle kruin, tussen 1957 en 1962, het hulle 15 top-10-treffers, onder andere “Cathy’s Clown”, in die VSA gehad.

Die sangduo is in 1986 in die Rock n Roll Hall of Fame ingehuldig en is in 1997 tydens die Grammys met ʼn toekenning vir hul lewenslange bedrae vereer.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Casper ·

Die finale einde van die oorspronklike duo van harmonisering. Hulle harmonie was van die beste en natuurlik. Groot verlies.

JohanR ·

Thanks for the memories in the 60’s and early 70’s brothers when I was of age to appreciate the great harmonies, and songs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.