Laboratoriumvleis is op pad, wat nou?

Gekweekte vleis lyk baie naby aan die ware Jakob. Foto: Youtube-skermgreep)

Die eerste laboratorium-gekweekte hamburger-pattie in 2013 het groot opslae gemaak. Dit het soos wetenskapfiksie geklink en baie van ons het dit as ʼn hersenskim afgeskryf, veral toe ons hoor dat dit $300 000 gekos het om dit te vervaardig.

Die professor aan die stuur van dié navorsing, Mark Post, van die Universiteit van Maastricht het voorspel dat dieselfde burger in 2021, $9 gaan kos. Hy was nie ver verkeerd nie.

ʼn Israeliese maatskappy Future meat technologies het ʼn maand of wat gelede ʼn kommersiële produksielyn vir gekweekte vleis bekendgestel, wat 500 kg vleis per dag kan produseer. Volgens Rom Kshuk, die HUB, gaan hierdie aanleg hulle in staat stel om gekweekte vleis teen 2022 op die winkelrakke te sit.

Hulle beplan om reeds hulle vleis teen die einde van die jaar op restaurante in die VSA se spyskaarte te hê; hulle wag net vir die FDA (Food and Drug Administration) om hul stempel daarop te sit.

Die maatskappy kan reeds hoender, vark en lam in hulle laboratoriums produseer en tans sal 100 gram van hulle hoender jou $4 uit die sak jaag. Dit is wel met plantgebaseerde vleis gemeng.

In Desember verlede jaar het die 1880-restaurant in Singapoer ʼn hoenderporsie wat deur die Amerikaanse maatskappy Eat Just verskaf is, op hulle spyskaart gesit. Dit kan bestel word vir $17,50, of ʼn trio-gereg vir $23.

So lyk die 1880-restaurant in Singapoer se $17,50-hoenderporsie. (Foto: Youtube-skermgreep)

In Februarie vanjaar het die navorsingsmaatskappy CE Delft ʼn verslag saamgestel wat voorspel het dat gekweekte vleis teen 2030 net so goedkoop soos konvensionele vleis sal wees. Dit sal dan teen $5,50 per kg vervaardig kan word.

Die wêreldwye konsultasiemaatskappy AT Kearny het gesê dat meer as die helfte van ons vleis teen 2040 nie van geslagte diere af gaan kom nie. Dit sal gekweek word, of plantgebaseer wees.

Die eerste patent vir die produksie van diervleis uit weefsel vir menslike verbruik is in 1991 deur ene Jon F. Vein ingedien. Die momentum vir die wedloop om laboratoriumvleis bekostigbaar te produseer het sedertdien skerp toegeneem.

In 2001 het NASA daarmee begin eksperimenteer en in 2008 het PETA (People for the ethical treatment of animals)  ʼn prys van $1 miljoen uitgeloof vir die eerste maatskappy wat dit teen 2012 kon regkry. In dieselfde jaar het die Nederlandse regering $4 miljoen in die eksperimentering van gekweekte vleis belê.

ʼn Nederlandse kunstenaar en filosoof, Koert Mensvoort, het in 2015 selfs ʼn virtuele laboratoriumvleisrestaurant, Bistro In Vitro, geskep waar mense idees kan uitruil, resepte kan voorstel en kan droom oor ʼn toekoms waarin gekweekte vleis ʼn bekostigbare werklikheid is.

Intussen het entrepreneurs en sakemanne reg oor die wêreld aan hierdie wedloop begin deelneem en beleggers soos Bill Gates en Richard Branson se beursies is wyd oop. Volgens ʼn verslag wat verlede jaar deur die Good Food Institute uitgereik is, is daar al meer as 70 maatskappye by die ontwikkeling van gekweekte vleis betrokke.

Die koste om laboratoriumvleis te produseer het oor die afgelope nege jaar met ʼn skouspelagtige 30 000 keer gedaal. (Foto: Youtube-skermgreep)

Die kweek van dierweefsel in laboratoriums vir menslike gebruik is egter nie ʼn nuwe uitvindsel nie. Dieselfde beginsels is reeds lankal gebruik om byvoorbeeld vervangingshartkleppe te kweek.

Laboratoriumvleis word vervaardig deur stamselle uit ʼn lewende dier te neem en dit dan in ʼn kweekmedium in ʼn bioreaktor sit terwyl dit met verskeie tegnieke gestimuleer word om te vermeerder.

Die proses is baie ingewikkeld en baanbrekerswerk moes op verskeie vlakke gedoen word, soos om onder andere ʼn goedkoper kweekmedium te ontwikkel, om metodes te vind om die selle (met steierwerk) te ondersteun en te verhoed dat dit soos kankerselle onbeheers vermenigvuldig.

In Post se eksperiment, wat twee jaar se navorsing voorafgegaan het, is 30 miljard selle, wat 10 000 spiervesels gevorm het, geskep.

Tans is die grootste uitdaging om die produksie uit die laboratoriums te kry en dit op ʼn kommersiële skaal te maak werk, sodat die koste, wat tans vier keer duurder as konvensionele vleis is, tot op verbruikersvlakke kan daal.

Die moderne, Westerse samelewing is oor die algemeen gaande oor die idee om nie jou vleis te slag voor jy dit eet nie. Daarbenewens word verskeie argumente aangevoer oor hoe die impak op die omgewing en ons gesondheid gaan verander as ons begin laboratoriumvleis eet.

Future Meat Technologies se keurig-voorbereide laboratoriumvleis het die Westerse wêreld gaande. (Foto: Youtube-skermgreep)

Emosioneelgelaaide terme soos slagoffervrye vleis, gesonde vleis, vleis sonder slagting en skoon vleis doen reeds vir ʼn wyle die rondte.

Die groot vraag is natuurlik, wat beteken dit vir ons vleisboere en hoe gaan ons hierdie uitdaging die hoof bied?

Ons moet aanvaar dat laboratoriumvleis ʼn gegewe is en hoewel daar heelwat navorsing gedoen is oor of die koolstofvoetspoor van gekweekte, teenoor konvensionele, vleis werklik minder is, gaan dit nie veel verander aan die histerie om hierdie nuutjie nie.

Ons vleisboere moet wel ʼn paar dinge in gedagte hou voor ons dadelik al ons diere veilingskrale toe stuur.

Daar gaan nog vir ʼn baie lang tyd mense wees wat nie gaan vrede maak met die idee dat hulle vleis uit ʼn laboratorium kom nie en daar is sprake dat sekere gelowe teen laboratoriumvleis gekant is weens die ingryping in natuurlike prosesse.

Tot tyd en wyl gekweekte vleis se voorkoms, smaak, reuk, tekstuur of ander faktore nie soos die ware Jakob gaan wees nie, is dit moontlik dat dit nie kommersieel mededingend is met vleis wat tradisioneel geproduseer word nie.

Op kort termyn gaan dit onmoontlik wees om die wye verskeidenheid vleis van die verskillende boerderytoestande, ouderdomme, spesies, rasse en snitte te reproduseer. Bene en bloed in vleis speel ook ʼn belangrike rol in die smaak en in heelwat geregte en daar is nog nie aanduidings dat bene binnekort gekweek gaan word nie.

Daar moet steeds diere met uitstekende genetika geproduseer word waaruit die stamselmonsters gehaal word.

Dan is daar die byprodukte van die vleisbedryf soos suiwel, hare, vere, wol, leer en pels wat steeds reusebedrywe op hulle eie is, waarvoor daar nog ʼn groot aanvraag en nie voldoende alternatiewe is nie.

Die Suid-Afrikaanse vleisbedryf durf egter nie gerus wees oor hierdie ontwikkelinge wat in die ontwikkelde wêreld afspeel nie. As ons boere hulle oë uitvee is hierdie bedreiging op ons voorstoep.

Daar sal slim maniere gevind moet word om so ʼn groot as moontlike mark vir konvensionele vleis te behou.

Ons kan wel seker wees dat daar altyd ʼn mark vir nisprodukte, of produkte met ʼn erkende handelsmerk, soos byvoorbeeld Karoolam of Angus-vleis sal wees en fynproewers sal maar altyd die werklike produk wil proe en beleef.

Die uitdink en bevordering van terme soos “egte vleis” en “tradisionele vleis”, kan die konvensionele vleisbedryf net goed doen.

Seisoenale veetrek agter weiding aan is ‘n toerismegeleentheid wat bevorder kan word. (Foto: Maroela Media)

Verder moet ons kyk na byvoorbeeld toerismegeleenthede soos seisoenale veetrek, wat op Unesco se lys van ontasbare kulturele erfenisse is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Keith

They GMO’d seeds, and now they want to GMO meat production. At least we know what we’re eating from a genuine cow, sheep or chicken, but this stuff….. aikona !

Suzette

Nee wat, dankie. Hou maar verby.

Manie

Lekker eet aan julle plastiek vleis, ek sal maar by die ware Jakob hou dankie.

Phillip

Nee kyk ek weet nie so mooi nie dan word ek eerder n vegietranjen

Anel

En veilig is die gekweekte goed nou eintlik? Ons word heeldag gepeper om natuurlike produkte te eet, nou die gemors! Hou maar verby. As ons nie moes vleis geëet het nie sou dieHete dit nie aan ons voorsien het nie. Van die vroegste tye word daar gepraat en voorskrifte gegee van hoe die branoffers ens geslag en geoffer moes word, en van die heerlike geure. Nee wat.