Lady Gaga kry honde terug ná aanval op hondestapper

Lady Gaga (Foto: Facebook)

Lady Gaga se twee vermiste honde is Vrydag veilig aan haar terugbesorg.

Die troeteldiere is vroeër vandeesweek tydens ’n gewelddadige aanval op die popster se hondestapper in Hollywood, Los Angeles, gesteel.

Ryan Fischer het Woensdagaand met die popster se drie Franse bulhonde, Koji, Gustav en Miss Asia, gaan stap toe hy deur twee gewapende verdagtes oorval is. Die verdagtes het daarop aangedring dat hy die troeteldiere oorhandig.

Fischer is gedurende ’n struweling met die verdagtes geskiet waarna laasgenoemde met Koji en Gustav op die vlug geslaan het. Miss Asia het tydens die voorval weggehardloop voordat sy na die gewonde Fischer teruggekeer het en later deur die wetstoepassers op die toneel teruggevind is.

Lady Gaga se honde Koji en Gustav. (Foto: Instagram)

Fischer is ná die voorval in ’n hospitaal opgeneem.

“Albei Lady Gaga se honde is na ’n plaaslike polisiestasie geneem en herenig met Lady Gaga se verteenwoordigers,” het die polisie in Los Angeles nou bevestig.

Volgens die polisie het ’n vrou die honde gevind en na Lady Gaga se personeel uitgereik om hulle terug te besorg.

Lady Gaga is in dié stadium in Italië vir die verfilming van ’n fliek.

“Die vrou se identiteit en die plek waar die honde gevind is, bly vertroulik weens die ondersoek en vir haar veiligheid,” het die polisie gesê.

Lady Gaga het vroeër ’n beloning van $500 000 (sowat R7,5 miljoen) aangebied in ruil vir die veilige terugkeer van haar honde.

“Ek is steeds lief vir jou, Ryan Fischer, jy het jou lewe gewaag om vir ons gesin te veg. Jy is vir altyd ’n held,” het Lady Gaga ná die voorval gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.