Lang herstel wag op prinses Charlene

Prinses Charlene. (Foto: Eric Mathon/Monaco-paleis)

Prinses Charlene van Monaco wat reeds geruime tyd met haar gesondheid sukkel, het nog ʼn lang pad om te gaan voordat sy ten volle sal herstel.

Die paleis het Donderdag gesê dat Charlene buite Monaco, en weg van haar gesin, vir uitputting behandel word. Dít nadat sy vir die grootste gedeelte van die jaar alleen in Suid-Afrika gewoon het en net onlangs na Monaco toe teruggekeer het.

“Die prinses sterk aan, hoewel dit nog ʼn paar maande kan duur voordat sy ten volle herstel het,” lui ʼn paleisverklaring.

Prins Albert en die egpaar se kinders is glo van plan om haar gedurende die Kerstyd te besoek.

Albert het self in November aan People gesê sy 43-jarige vrou ontvang behandeling buite Monaco, maar het nie uitgebrei oor die aard van haar gesondheidsprobleme nie.

“Sy is duidelik uitgeput – fisiek en emosioneel. Sy is oorweldig en kan nie haar amptelike pligte, die lewe in die algemeen of selfs die gesinslewe die hoof bied nie,” het hy aan die tydskrif gesê.

Charlene is vroeër vanjaar na ʼn hospitaal in Durban gehaas nadat sy ʼn ineenstorting gehad het. Sy het ook ʼn operasie ondergaan, maar min besonderhede daaroor is bekend gemaak. Nadat sy vir ʼn tyd lank behandeling in Suid-Afrika ontvang het, is sy in November terug na Monaco.

Haar afwesigheid by Monaco se jaarlikse nasionale dag verlede maand – die grootste jaarlikse gebeurtenis in die land – het die publiek opnuut bekommerd gelaat oor haar gesondheid. Bespiegeling oor die stand van die egpaar se huwelik het ook die ronde begin doen.

Charlene se laaste openbare verskyning saam met Albert was in Januarie vanjaar in Monaco, maar die gesin het verlede maand, nadat Albert en die kinders na Suid-Afrika gereis het om by Charlene te kuier, foto’s op sosiale media gedeel.

Die voormalige Olimpiese swemmer is in 2011 met prins Albert II getroud. Die egpaar, wie se huwelik aanvanklik as ʼn sprokiesverhaal bestempel is, het intussen die bron van talle gerugte geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.