Lang toue, vertragings toe Namibiërs stem

Namibiërs trek hul kruisies by ‘n stempunt naby Windhoek. (Foto: Brandon van Wyk/AP)

Honderde Namibiese kiesers het Woensdag lank ná die afsnytyd om te stem steeds in lang rye gewag om hul kruisies te trek. Die land se nagenoeg 1,3 miljoen stemgeregtigde kiesers het gister gestem vir ʼn president en lede van die nasionale vergadering.

Die regerende Swapo-party is vroeër dié maand geruk deur ʼn korrupsieskandaal toe twee ministers bedank het nadat Ysland se grootste seekosmaatskappy, Samherji, daarvan beskuldig is dat hy omkoopgeld aan plaaslike politici betaal het vir toegang tot Namibië se viskwotas. Tesame met die mynbedryf is vissery ʼn belangrike ekonomiese hulpbron vir die land.

In die laaste verkiesing in 2014 het Swapo altesaam 80% van die stemme op hom verenig, die hoogste nog, terwyl pres. Hage Geingob 87% van die stemme vir president gekry het.

Namibië gaan in dié stadium gebuk onder ʼn moordende droogte in groot dele van die land, asook ʼn sukkelende ekonomie. Ten spyte van dié en ander knelpunte verwag kenners egter nie dat Swapo uit die kussings gelig gaan word nie.

Shikukutu Ludwig, voorsittende beampte van die stempunt by die Ombili-gemeenskapsentrum, het gister teen 22:00 gesê die rye is steeds bitter lank en die laaste persoon sou na verwagting eers omstreeks 01:00 vanoggend kon stem.

“Woensdag om 21:00 [die afsnypunt] was die rye nog baie lank, maar ons het verseker dat almal wat teen daardie tyd in die ry was, binne toegesluit word sodat hulle wél kan stem,” het hy gesê.

Chaos het by die stempunt uitgebreek toe sommige kiesers ná 21:00 eers in die ry probeer val het.

“Volgens wet kan ons nie diegene wat laat opdaag toelaat om te stem nie. Daar is niks wat ons daaraan kan doen nie.”

Lang vertragings is by talle kiespunte ondervind. (Foto: Musa C Kaseke/Xinhua/IANS)

Ontevrede kiesers het hul misnoeë te kenne gegee met die besluit van die Namibiese Verkiesingskommissie (ECN) wat nié bykomende tyd beskikbaar gestel het vir vertragings wat in die stemproses ondervind is nie.

“Ons staan al sedert 13:00 in dié ry en daar was talle vertragings. Hoekom het die ECN dit nie in ag geneem nie. Hierdie is nie ʼn vrye en regverdige verkiesing nie. Ons wil stem, maar ons kan nie,” het ʼn bekommerde kieser gesê.

Die ECN se hoofkiesbeampte, Theo Mujoro, het vroeër gesê slegs diegene wat reeds teen 21:00 in die ry was, sou toegelaat word om te stem.

The Namibian het berig verskeie stempunte het laat geopen, terwyl probleme met die elektroniese stemmasjiene by talle kiespunte ook vir vertragings gesorg het. Sommige masjiene se batterye was pap, terwyl ander glad nie gewerk het nie. Sommige kiesers se name kon ook nie op die stelsel opgespoor word nie, ondanks die feit dat hulle stemkaarte gehad het.

Namibië was die eerste land in Afrika suid van die Sahara om dié masjiene te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.