Laos-damramp: Dodetal styg

ʼn Inwoner sit op ʼn dak met vloedwater wat byna tot teenaan die dak van die huis kom (24 Julie 2018). Foto: Attapeu Today via AP

Terwyl ingrypende reddingspogings steeds aan die gang is in Laos waar duisende mense nog deur massas water vasgekeer is nadat die wal van ʼn hidroëlektriese dam gebreek het, het owerhede bevestig die dodetal van dié ramp het intussen gestyg.

Time berig minstens 27 sterftes is reeds bevestig en honderde mense word nog vermis.

Thongloun Sisoulith, die eerste minister, het die voorval as die ergste ramp in die afgelope paar dekades in Laos bestempel. Volgens Sisoulith is owerhede besig om ʼn amptelike lys saam te stel van mens wat vermis word en staan dié lys reeds op 131.

ʼn Senior regeringsbeampte het aan Reuters gesê “dosyne” mense het gesterf en hy glo die uiteindelike dodetal sal baie hoër wees as wat dit tans is.

Maroela Media het vroeër berig die wal van een van die vyf aanvullende grondwaldamme van die Xepian-Xe Namnoy-damprojek in die Attapeu-provinsie het Maandag ineengestort en veroorsaak dat ʼn reusewatermassa stroomaf deur verskeie nedersettings gespoel het. Huise en bome is deur die water meegesleur en meer as 6 600 mense is dakloos gelaat.

Mense word met bote uit die rampgebied ontruim (24 Julie 2018). Foto: Attapeu TV via AP

Time berig net ure voordat die damwal gebreek het, het ʼn konsortium van maatskappye wat die projek behartig gewaarsku dat een van sy damme ernstig onveilig is en dat die moontlikheid bestaan dat die damwal kan breek indien die grondwaldam ineenstort.

ʼn Beampte van SK Engineering & Construction, een van twee Suid-Koreaanse maatskappye wat betrokke was by die bouwerk, het aan Time bevestig krake is voor die ramp in die dam waargeneem en daar is aanbeveel dat 12 van die omliggende nedersettings ontruim word. Hy het bygevoeg dit is nog onduidelik wat veroorsaak het dat die grondwaldam meegegee het onder die swaar reënval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.