Larry King (87) in die hospitaal opgeneem

Larry King (September 2016) (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die veteraan geselsprogramaanbieder Larry King (87) is in die hospitaal opgeneem met Covid-19, berig Amerikaanse media.

CNN het Saterdag berig ʼn bron, “naby aan die familie”, het gesê King, een van die netwerk se grootste sterre, is al meer as ʼn week lank by Cedars Sinai- mediese sentrum in Los Angeles.

King het tipe 2-diabetes en ʼn lang geskiedenis van gesondheidsprobleme, insluitend verskeie hartaanvalle, longkanker en angina, ʼn toestand wat veroorsaak word deur verminderde bloedvloei na die hart.

Die legendariese aanbieder is een van die mees bekende gesigte op Amerikaanse televisie, en staan bekend vir sy opgerolde moue, veelkleurige dasse, kruisbande en groot bril.

Die lys van persone met wie hy al ʼn onderhoud gevoer het, strek van elke Amerikaanse president sedert 1974 tot wêreldleiers Jasser Arafat en Wladimir Poetin en bekendes soos Frank Sinatra, Marlon Brando en Barbra Streisand.

King het 25 jaar lank CNN se Larry King Live aangebied en in 2010 afgetree. Hy het steeds onderhoude gevoer op sy eie webwerf en in 2012 met Larry King Now op Ora TV begin, ʼn aanlyn digitale netwerk waarvan hy medestigter is.

Hy het in 2013 ook met die program Politicking with Larry King op Ora TV begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.