Las Vegas: Ondersoek fokus op skieter se vriendin

Marilou Danley. Foto: Las Vegas Metropolitan Police Department via AP

Lede van die FBI wat ondersoek instel na Sondag se massa-skietvoorval in Las Vegas in die VSA fokus nou op die vriendin van die skieter, Stephen Paddock.

Paddock se vriendin, Marilou Danley, was in die Filippyne ten tyde van die aanval, maar het Dinsdagaand na die VSA teruggekeer waar sy deur FBI-agente by die lughawe ingewag is. Associated Press berig owerhede hoop Danley kan meer lig werp op die motief vir die aanval wat 59 mense se dood veroorsaak en meer as 500 gewond gelaat het.

Maroela Media het vroeër berig ʼn skieter het Sondagaand vanuit die 32ste vloer van ʼn hotel vir minstens twee minute lank op konsertgangers by ʼn musiekfees oorkant die straat losgebrand. Polisiebeamptes het Paddock se liggaam in die hotelkamer in die Mandalay Bay Resort and Casino aangetref waar hy vermoedelik selfmoord gepleeg het kort voordat die polisie op hom afgekom het. Daar is op 18 vuurwapens, ploftoestelle, ammunisie en elektroniese toestelle beslag gelê.

Intussen het meer besonderhede oor Paddock en Danley se verhouding aan die lig gekom. Die twee het jare gelede ontmoet toe Danley by die Atlantis Casino Resort Spa in Reno, Nevada, gewerk het. Volgens Eric Paddock, Stephen se broer, was Stephen en Danley smoorverlief.

Mense woon ʼn nagwaak by ter herinnering van die slagoffers van die massa-skietvoorval in Las Vegas. Foto: Xinhua/Wang Ying

Danley en Paddock het gereeld saam gedobbel. Volgens die owerhede het Paddock kort voor die skietery ʼn groot bedrag geld – byna $100 000 – na iemand in die Filippyne oorgeplaas. Eric meen sy broer wou waarskynlik seker maak dat Danley oorsee is wanneer hy die massa-skietery uitvoer.

Danley is van die Filippyne afkomstig, maar het Australiese burgerskap. The Courier Mail, ʼn koerant in Brisbane, het foto’s gepubliseer van ʼn vakansie na Australië in 2013 toe Paddock glo saam met Danley daarheen gereis het om haar familie te ontmoet.

Volgens hofrekords het Danley vermoedelik sedert Augustus 2013, toe sy steeds met ʼn ander man getroud was, by Paddock gewoon. Danley en haar voormalige man is in Februarie 2015 amptelik geskei.

Pres. Donald Trump en sy vrou, Melania, saam met adjunkpres. Mike Pence en sy vrou, Karen, tydens ʼn oomblik van stilte vir die slagoffers van die massa-skietvoorval in Las Vegas (2 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais

Bure het Danley as oulik en vriendelik beskryf, maar gesê Paddock was bot en onvriendelik. Al die inwoners van die gemeenskappe waar Paddock deur sy lewe gewoon het, het hom op dieselfde manier beskryf.

Paddock se pa, Benjamin Hoskins Paddock, was dekades gelede ʼn bankrower op die FBI se lys van mees gesoekte misdadigers. Benjamin Paddock het in 1969, toe Stephen 15 jaar oud was, uit ʼn tronk ontsnap en is eers in 1978 weer in hegtenis geneem. Stephen en sy drie broers het baie min kontak met hul pa gehad en later het Stephen ook kontak met sy ander twee broers, Bruce en Patrick, verloor.

Hy en Eric het gedeelde sakebelange gehad en het dus in kontak gebly, maar het volgens Eric nie gereeld gepraat nie.

Volgens die Amerikaanse owerhede is daar nog geen duidelikheid rondom die motief vir Paddock se dade nie en word verskeie moontlikhede ondersoek. Joseph Lombardo, woordvoerder van die polisie in Las Vegas, het gesê Danley word gesien as ʼn persoon van belang in hul ondersoek na die motief, veral nadat vuurwapens, ammunisie en ploftoestelle in die huis in Mesquite gevind is wat sy met Paddock gedeel het.

“Ons gaan voort met ons ondersoek na daardie vrou. Daar is verskeie vrae wat beantwoord moet word,” het Lombardo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.