Las Vegas-skietery dodelikste in VSA se geskiedenis

Foto: (Chase Stevens/Las Vegas Review-Journal via AP)

Die tragedie by ʼn musiekfees in Las Vegas in die VSA toe ʼn skieter Sondagaand op duisende konsertgangers geskiet het, is die dodelikste massa-skietvoorval in die Amerikaanse geskiedenis.

Minstens 50 mense is dood en meer as 400 gewond toe ʼn man vanuit die 32ste vloer van ʼn hotel vir minstens twee minute op die skare losgebrand het voordat hy glo selfmoord gepleeg het.

Duisende mense het paniekerig van die toneel weggehardloop terwyl wetstoepassingsbeamptes probeer het om die skieter op te spoor. Konsertgangers, sommige met bloed op hul klere, het ná die aanval verdwaas in die strate rondgestaan.

Die voorlopige dodetal, wat volgens die polisie verder kan styg, is hoër as die dodetal van die massaskietery verlede jaar by ʼn nagklub in Orlando.

Polisiebeamptes het die Las Vegas-skieter intussen as Stephen Paddock (64) geïdentifiseer, maar gesê die motief vir die skietery is nog nie bekend nie.

Foto: (Chase Stevens/Las Vegas Review-Journal via AP)

Joseph Lombardo, ʼn polisiewoordvoerder, het aan verslaggewers gesê Paddock word nie met enige militante groepe verbind nie. “Ons het geen idee wat sy geloofsoortuigings was nie. Ons het talle vuurwapens in die kamer wat hy beset het gekry,” het Lombardo gesê.

Owerhede het gesê hulle het Paddock se kamermaat, Marilou Danley, opgespoor. Lombardo het nie genoem of Danley by die skietery betrokke was nie. Die polisie het ook op twee voertuie afgekom wat aan Paddock behoort.

ʼn Video wat tydens die aanval geneem is toon hoe mense van die toneel vlug terwyl ʼn geluid soortgelyk aan dié van outomatiese vuurwapens gehoor kan word. “Dit het soos vuurwerk geklink. Mense het op die grond neergeval. Dit het net aangegaan,” het Steve Smith (45), ʼn man van Phoenix, Arizona, wat op die toneel was gesê.

Foto: (AP Photo/John Locher)

“Daar was seker 100 skote op ʼn slag. Dit het geklink asof hy herlaai en dan gaan dit weer voort,” het Smith gesê.

Mike McGarry (53), nog ʼn ooggetuie, het ook vertel hoe hy gehoor het hoe honderde skote afgevuur word. “Dit was gek van vrees. Ek het bo-op die kinders gelê. Hulle is 20 jaar oud. Ek is 53. Ek het ʼn goeie lewe agter die rug,” het hy gesê. Op sy T-hemp op sy rug kan skoenmerke gesien word soos mense in paniek oor hom gehardloop het.

Volgens ooggetuies het casino’s in die gebied hul deure gesluit tydens die voorval om potensiële aanvallers buite te hou.

Pres. Donald Trump het op Twitter sy medelye met die slagoffers en hul families betuig. “God seën julle,” het hy geskryf.

Lees alle vorige berigte oor die Las Vegas-skietvoorval op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Francie ·

Ook maar oral in die wêreld gevaarlik, lyk dit vir my.
Watter sinnelose daad!

Pop ·

Hoe bang moes mense nie gewees het nie. ????My hart is stukkend vir die mensdom. Die duiwel vier fees terwyl ons dit toelaat. Allerhande gelowe word angehang.

Danie ·

Pieter EK twyfel of jy weet wat patsy werklik beteken. Dalk eers bietjie gaan nalees. Maar ook net as jy wil. Netnou leer jy iets.

Willem ·

Danie,

Mense soos Pieter ly aan ‘n vervolgingswaan en glo aan die “conspiracy theories”.

Johanna Botha ·

Dis is vreeslik wat daar gebeur het en in SA het ons 50 moorde n dag deur verskillende mense gepleeg ….

Willem ·

So what?
Reg oor die wêreld gebeur daar sulke goed. Dit beteken nie mens moet met elke iedere artikel Suid Afrika se probleme insleep nie

Danie ·

Willem. Willem Willem.

50 word in een dag in die VSA vermoor en dit is die ergste in hulle geskiedenis. 50 mense word elke dag van die jaar in Suid-Afrika vermoor en dit is maar reg. Mense soos jy wat enkeldiep in hulle eie onderstel opkyk mis die waansin van hoe erg dit eintlik is. Om een of ander rede moet die omvang toestand weggesteek word. Dit is ongelukkig die gevolg van ander se swak besluite. As jou gewete jou aan kla. Goed so.

@ Willem ·

Ongelukkig moet ons. Te lank het die wereld die moorde in SA geignoreer, noudat dit self in hulle lande gebeur (net teen ‘n baie stadiger pas) sal hulle miskien hulle oë oopmaak oor wat in SA besig is om te gebeur. Hierdie is after all ‘n Suid Afrikaanse nuusblad en mens kan nie oor 50 Amerikaners huil, maar nie oor die 475 plaasaanvalle hierdie jaar nie. Jammer, maar soos apartheid oral ingesleep word, so moet plaasmoorde ook maar aandag in die buiteland geniet. Ek is BAIE jammer vir die Amerikaanse slagoffers en hulle families. Maar dit is wel die geleentheid om SA se moorde ook te BEKLEMTOON want mense verstaan slegs as dit aan hulle eie basse ook raak. Dit word ge’downplay’ regoor die wereld, nou is die aanval groot nuus, kom ons gebruik dit om die moorde in SA ook te highlight.

Willem ·

Kyk, dit help nie dat mens vuurwapens so maklik kan kry in Amerika nie. Jy kan ‘n semi-outmatiese militere geweer koop en maklik laat verander na outomaties. In baie state is daar letterlik ‘n paar papiertjies wat jy invul en jy kry die vuurwapen na ‘n dag of twee. As jy dit dan weer verkoop is daar nie papierwerk nie.

Hoekom het lande soos die UK en Australie nie hierdie vlak van “mass shootings” nie? Wat is fout in Amerika?

Johan ·

Dan moet hulle maar ophou vragmotors verkoop in Europa want dis die wapen wat deur Islam daar gebruik word! Moenie die ‘wapen” blameer wat deur siek mense gebruik word nie.

Danie ·

Weereens: Willem, Willem, Willem,

In Brittanje is ‘n geweer ‘n te klein ding. Hulle bring sommer ‘n bom na ‘n konsert is maak baie meer mense op een slag dood. Onthou jy nog die Ariana Grande konsert. Sover ek verstaan was geen van die wapens wat die waansinnige ou gebruik het wettig nie.

MissDemeanor ·

Die prys wat Amerikaners gaan betaal daarvoor om hul vuurwapens te hou, gaan wees dat hul eie regering al hoe meer gaan inluister op hul landsburgers. Die FBI moet probeer om sulke “domestict acts of terrorism” te voorkom en dus aangesien hul nie mense kan keer om wapens te “stockpile” nie, is die ander uitweg om landsburgers se internetgebruik, selfoon gebruik en bewegings te monitor.

Afrikaanse Knaap ·

As jy in die Verenigde Koninkryk met ‘n mes op straat loop, en jy is nie ‘n “chef” nie, gaan jy tronk toe. Ek weet want ek was daar.
In die Verenigde Koningryk gaan jy verseker nie ‘n vuurwapen kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.