Lasbrief vir inligting op swartboks ná Tiger Woods-ongeluk

Tiger Woods (Foto: TigerWoods.com)

Die polisie in Los Angeles het ’n lasbrief uitgereik om die data op die sogenaamde swartboks van Tiger Woods se motorwrak te verhaal.

Die gholfsuperster is meer as ’n week gelede ernstig beseer toe sy sportnutsvoertuig die middelman in ’n Los Angeles-buurt getref, in die aankomende baan beland, teen ’n boom gebots en verskeie kere gerol het.

Sky Sports berig polisiebeamptes van die Los Angeles-distrik wil nou na die telematika van die voertuig kyk om die aard van die ongeluk te probeer verstaan.

“Ons het ’n lasbrief vir die inligting op die swartboks van meneer Woods se motor uitgereik,” het onderbalju Tracy Koerner gesê.

Die ongelukstoneel. (Foto: Patrick T. FALLON/AFP)

Die polisie het egter nie ’n lasbrief uitgereik om ’n bloedmonster by Woods of die hospitaal waar hy ná die ongeluk opgeneem is, te bekom nie. Daar is glo “geen waarskynlike oorsaak” daarvoor nie.

Koerner het gesê polisiebeamptes op die toneel het geensins vermoed dat Woods onder die invloed van drank of dwelms was ten tyde van die ongeluk nie.

Maroela Media het vroeër berig Woods het ernstige beserings aan sy bene in die ongeluk opgedoen.

Die vyftienmalige major-kampioen het reeds ’n operasie ondergaan om beduidende ortopediese beserings aan sy laerregterbeen en -enkel te herstel. ’n Pen is onder meer in Woods se skeenbeen ingevoeg en ’n kombinasie van skroewe en penne gebruik om sy voet en enkel te stabiliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michal ·

Dis snaaks, hoekom n lasbrief, vra net vir toestemming van Tiger, eienaar van die kar. Ek is seker as daar n derde party betrokke was, sal Tiger die data ook graag wil sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.