Lawa verwoes reeds honderde geboue

Lawa spuit uit die Cumbre Vieja-vulkaan in die suide van La Palma (21 September 2021) (Foto: Desiree Martin/AFP)

Lawa wat teen die hange van Spanje se La Palma-eiland afloop, het reeds minstens 320 geboue verwoes. Inwoners het Woensdag ontsteld staan en kyk hoe die lawa na die see toe loop.

Die Cumbre Vieja-vulkaan het Sondag in die suide van La Palma uitgebars. La Palma is een van sewe eilande wat deel vorm van die Kanarie-eilande.

Die Europese Unie se Copernicus-waarnemingsprogram het gesê lawa bedek nou 154 hektaar en het 320 geboue verwoes. Dit is twee keer soveel as 24 uur gelede.

Kenners verwag dat die getal sal styg terwyl die stadig-bewegende massa na die eiland se westelike kus beweeg. Sodra die lawa die see bereik, sal dit waarskynlik ontploffings veroorsaak met giftige gasuitlatings.

Minstens 6 100 mense is reeds ontruim, waarvan 400 toeriste is wat na die nabygeleë Tenerife geneem is.

Geen beserings is tot dusver aangemeld nie, maar die skade aan grond en eiendom is enorm. Angel Victor Torres, streekshoof, het gesê die skade beloop na raming baie meer as €400 miljoen (sowat R6,9 miljard).

Brandbestryders gebruik swaar masjinerie in ʼn poging om die vloei van die lawa te beheer. ʼn Tonnel is gegrawe na ʼn nabygeleë ravyn.

Kenners wat aan die Pevolca-vulkaannoodplan werk, sê die lawa vloei in ʼn noordelike en ʼn suidelike rigting. David Calvo, ʼn kenner aan die Involcan- vulkanologiese instituut, het gesê die lawa “het baie stadiger begin vloei omdat dit ʼn plat gebied bereik het”. Die lawa se hoogte neem egter toe. Dit is plek-plek reeds 15 meter diep.

Indien die lawa, met ʼn temperatuur van 1 100 °C, teen dieselfde pas bly beweeg, sal dit die see teen Woensdagaand of Donderdag haal. “Wanneer dit die see haal, sal daar ʼn groot stryd wees tussen die water en die lawa,” het hy bygevoeg. “Die kontrasterende temperature veroorsaak massiewe ontploffings en fragmentering van die lawa wat soos missiele sal uitskiet.”

Involcan-kenners het dieselfde verskynsel in 2018 gesien by die Kilauea-vulkaan in Hawaii. Sestien mense is beseer deur die ontploffing en een persoon “het byna ʼn been verloor”.

Wanneer die lawa die kusgebied bereik, sal wolke suur, giftige gasse ook vrygelaat word. Die vulkaan stel tans reeds sowat 10 000 ton swaeldioksied per dag vry. “Dit is ʼn teken dat die pas en intensiteit van die uitbarsting nie gaan afneem nie.”

Involcan glo die uitbarsting van Cumbre Vieja kan “tussen 24 en 84 dae lank duur”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Nie goeie nuus vir klimaatsverandering aktiviste nie, baie swael word vrygestel. Swael is eintlik noodsaaklik vir plantontwikkeling, dus dit sal ook bome se groei positief beïnvloed verder van die vulkaan af.

Die vulkaan se skade is maar gering in vergelyking met Julie se KZN onluste. Lyk my dit is beter om ‘n vulkaan te hê as die ANC.

Grassie ·

Ek is bly ek woon in ‘n land met relatief min groot natuurrampe. Ons ernstigste rampe is mens-gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.