Leerders vermoor onderwyseres ná sy ‘in ’n droom’ laster

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

ʼn Pakistanse onderwyseres is Dinsdag wreed vermoor deur ʼn vrouekollega en twee leerders wat haar van godslastering beskuldig het.

Dit nadat ʼn familielid van die leerders ʼn droom gehad het waarin die slagoffer, Safoora Bibi (21), teen die profeet Mohammed sou gelaster het.

Dit is die jongste moord wat met uiters sensitiewe godsdienstige kwessies in dié land verband hou.

Bibi is by die hek van die Jamia Islamia Falahul Binaat-skool in Dera Ismail Khan met ʼn mes en knuppel aangeval. Dera Ismail Khan is in Pakistan se ultra-konserwatiewe noordwestelike Khyber Pakhtunkhwa-provinsie geleë wat aan Afghanistan grens.

Volgens die polisie het die verdagtes – wat sedertdien in hegtenis geneem is – Bibi in ʼn lokval gelei.

“Sy is dood nadat haar keel afgesny is,” het Saghir Ahmedm, polisiewoordvoerder, aan AFP gesê.

Die hoofverdagte is ’n kollega wat die misdaad glo saam met twee niggies beplan het. Dié niggies is albei leerders by dié skool.

Die meisies het glo aan die polisie gesê dat ʼn familielid ʼn droom gehad het waarin die slagoffer “godslastering teen die profeet Mohammed gepleeg het”.

Die polisie ondersoek tans of die hoofverdagte dalk ʼn persoonlike vendetta teen die oorledene gehad het.

Azeem Khan, nog ’n polisiebeampte, het die besonderhede bevestig.

Menseregtegroepe sê Pakistan se godslasteringswette word dikwels ook toegepas om persoonlike vendettas te besleg.

’n Sri Lankaanse fabrieksbestuurder wat in Pakistan gewerk het, is verlede jaar doodgeslaan en deur ’n skare aan die brand gesteek nadat hy van godslastering beskuldig is.

Die sentrum vir maatskaplike geregtigheid – ʼn onafhanklike groep wat hulle vir die regte van minderhede in die land beywer – sê minstens 84 mense is verlede jaar daarvan beskuldig dat hulle godslastering gepleeg het, waar van drie mense deur ʼn skare vermoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Ek droom elke aand dat NDZ, Cyril Ramaphosa en die ANC @Voertsak! Hoop daai droom word gou waar.

Elize ·

Die strooi wat mense as verskonings gebruik om misdadig op te tree is skokkend en lagwekkend.

Mariana ·

Die mense in die wêreld is boos. Liewe aarde nou word drome al letterlik opgeneem. Siek, siek mensdom

Nommer 7 ·

Ek dink ek moet Pakistan toe gaan en hoop ek droom daar dat ek die lotto gewen het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.