Legendariese Syd Millar sterf

Dr. Syd Millar (Foto: IRB/Verskaf)

ʼn Natuurlike leier en visionêr.

Só word dr. Syd Millar, voormalige Ierse stut, afrigter en bestuurder van die Britse en Ierse Leeus, Maandag onthou nadat hy in die ouderdom van 89 oorlede is.

Wêreldrugby sê in reaksie Millar, wat tussen 2003 en 2007 as voorsitter van die destydse Internasionale Rugbyraad (IRR) gedien het, sal onthou word as een van rugby se beste staatsmanne.

“Millar was een van die beste spelers, afrigters en bestuurders van sy generasie,” sê sir Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby.

“Hy het die hervorming van die spel gelei en was die voorsitter van wat in rugbykringe beskou sal word as die eerste moderne Wêreldbeker vir mans in Australië in 2003, ʼn historiese Wêreldbeker vir vroue in Kanada in 2006 en ʼn grensverskuiwende Wêreldbeker vir mans in Frankryk in 2007.”

Millar is in 1995 tot president van die Ierse Rugbyvoetbalunie verkies, en het dié unie vanaf 1992 met onderskeiding in die IRR verteenwoordig. Millar het ook as voorsitter van die Britse en Ierse Leeus tussen 1999 en 2002 gedien.

Millar, destyds ʼn staatmaker van die Ballymena Rugbyklub en Ulster Rugby, het sy debuut vir Ierland in 1958 gemaak en in altesame 37 wedstryde gespeel. Millar het ook drie keer saam met die Britse en Ierse Leeus getoer: in 1959, 1962 en 1966.

Millar sou later Ierland tussen 1973 en 1975 afrig en die Leeus in 1974 op ʼn onoorwonne toer deur Suid-Afrika lei. Hy het ook as bestuurder van die Britse en Ierse Leeus op die 1980-toer en van die Iere tydens die eerste Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1987 gedien.

Die titel Commander of the British Empire (CBE) is in 2005 aan Millar toegeken nadat hy vroeër ʼn MBE-eerbewys (Member of the Order of the British Empire) ontvang het.

Millar is later in 2009 ook in die Internasionale Rugby-heldesaal vereer en in 2007 met die gesogte Légion d’honneur bekroon.

“Ek weet ek praat namens kollegas en die wêreldwye rugbyfamilie as ek sê Syd Millar was ʼn reus van die spel op die wêreldverhoog,” sê Beaumont.

“Syd, net so invloedryk in die raadsaal as wat hy as speler, afrigter en bestuurder briljant was, was ʼn natuurlike leier en visionêr, iemand wat baie omgegee het vir die sport, sy mense, waardes en toekoms.

“Syd het die sport deur sommige van sy mees bepalende oomblikke gelei, wat die uitbreiding en ontwikkeling van die sport verby sy hartlande aangedryf het. Hy was ʼn inspirasie vir my én talle aspirant-administrateurs en sal baie gemis word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.