Lego staan nog stewig ná afsondering

Lego het verlede jaar rekordverkope behaal. (Foto: pixabay)

Die streng afsonderingstydperk wat verlede jaar in talle wêrelddele ingestel is – en gedreig het om menige ouer wat verveelde kinders probeer vermaak teen die mure uit te dryf – het tot ʼn rekordwins vir die speelgoedvervaardiger Lego gelei.

Die ongenoteerde Deense familieonderneming het ʼn styging van 19% in nettowins getoon – van sowat R23,6 miljard rand tot sowat R28 miljard – sy grootste wins tot dusver.

Verkope het met 13% tot sowat R77 miljard toegeneem.

Die styging word toegeskryf aan die afsondering wat mense gedwing het om hul tyd binnenshuis te verwyl en aanlyn te koop.

Die vervaardiger van die kleurvolle plastiekblokkies sê hy het sy wêreldwye markaandeel verhoog, selfs al moes hy sy aanlegte in China en Mexiko weens die pandemie tydelik sluit en dat dít tot hoër verskaffingskoste gelei het.

Verkope het deur die bank toegeneem danksy al hoe meer aanlyn verkope en ʼn verdubbeling in besoeke aan sy webwerwe, asook die opening van 134 winkels. Altesame 91 van dié winkels is in China, waar die maatskappy beoog om verder uit te brei.

Ondanks die groei in aanlyn verkope het Lego, gesetel in Billund in die weste van Denemarke, ook planne om vanjaar 120 nuwe winkels te open.

Bykomend tot die bekende en geliefde blokkies, wat steeds ʼn topverkoper onder jonk en oud bly, het die maatskappy die afgelope paar jaar ook begin belê in videospeletjies, rolprente, tekenprente en die Legoland-temaparke.

Lego, ʼn kombinasie van die Deense “leg godt”, oftewel “speel goed” (dus, “om goed te speel”), was veral suksesvol met sy Super Mario-speletjiesooreenkoms met Nintendo. Dit is in Augustus bekend gestel en spelers kan lewensgetroue weergawes van Super Mario-2D-vlakke bou.

Die maatskappy het in 2017 groot herstrukturering ondergaan en sy fokus op multimedia-speletjies en volhoubaarheid geplaas.

Hoewel Lego se ikoniese blokkies haas onbreekbaar is – en geslagte lank hergebruik word – word plastiek al hoe meer afkeurend beskou weens die blywende skade wat die chemiese komponente daarvan aan die aarde aanrig.

Lego het dus onderneem dat sy blokkies teen 2030 heeltemal volhoubaar sal wees.

Die maatskappy hoop ook dat sy vervaardigingsaanlegte teen volgende jaar koolstofneutraal sal wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Mense verander ook in Lego met al die mikroplastiek wat in hul liggame en selfs DNS vasgevang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.