Lekkasie by chemiese aanleg in Oekraïne

Verdedigingsmagte van Oekraïne rig hul wapen op ʼn moontlike hommeltuig naby ʼn woonstelblok in Kiëf wat deur puin van ʼn vuurpyl getref is (20 Maart 2022) (Foto: Fadel Senna/AFP)

Inwoners van die noordelike Oekraïense dorp Nowoselitsia moet skuiling soek ná ʼn ammoniak-lekkasie by ʼn nabygeleë chemiese aanleg, het ʼn beampte Maandag gesê. Intense gevegte met Russiese magte in die gebied duur voort.

Die aanleg vervaardig ʼn rits chemiese kunsmis. Die omvang en oorsaak van die voorval is nog nie duidelik nie, maar inwoners is aangeraai om skuiling te soek in kelders of op laer vlakke van geboue om blootstelling te voorkom.

Nooddiensspanne is op die toneel en wind in die gebied beteken dat die nabygeleë stad Soemi, met ʼn vooroorlogse bevolking van ongeveer 250 000, word nie in hierdie stadium bedreig nie. Soemi, sowat 350 km oos van Kiëf, beleef al weke lank swaar gevegte met Rusland.

Die Russiese regering het die afgelope paar dae propaganda en waninligting verskerp in pogings om aan te voer dat Oekraïne besig is om geïmproviseerde chemiese wapens te gebruik.

Die Russiese ministerie van verdediging het laat Sondag aangevoer dat “nasionaliste” ammoniak en chloorfasiliteite “gemyn” het, “met die doel om massavergiftiging van inwoners in die Soemi-streek te veroorsaak”, indien eenhede van die Russiese gewapende magte die gebied sou betree.

Rusland ontken dat hy Sirië gehelp het om chemiese wapens te gebruik in verskeie aanvalle teen sy eie burgers tydens die land se 11 jaar lange burgeroorlog.

Moskou het ook ontken dat hy chemiese wapens teen die Russiese opposisieleier Alexei Navalny en oud-Russiese spioen Sergei Skripal en sy dogter Yulia gebruik het.

Hier is die jongste verwikkelinge in die konflik tussen Rusland en Oekraïne:

Oekraïne verwerp Russiese ultimatum

Rusland het die beleërde stad Marioepol tot 21 Maart om 05:00 kans gegee om oor te gee, met ʼn waarskuwing dat “meer as ʼn krygshof” wag vir diegene wat weier.

Adjunkminister Iryna Vereshchuk van Oekraïne het die ultimatum verwerp en aan plaaslike media gesê “daar kan nie gesprekke wees om wapens te oorhandig nie”.

Biden op pad na Europa

Die Amerikaanse president Joe Biden sal Vrydag na Pole reis om met pres. Andrzej Duda te vergader, het die Withuis gesê.

Siviele teikens aangeval

Owerhede in Oekraïne beskuldig Rusland daarvan dat hy bomme gewerp het op ʼn kunsskool in Marioepol waar 400 mense, insluitend vroue en kinders, skuiling soek.

Gedwonge oordrag

Beamptes in Marioepol voer aan Russiese magte het ongeveer 1 000 inwoners onder dwang na Rusland vervoer en hulle van hul Oekraïense paspoorte ontneem – ʼn moontlike oorlogsmisdaad.

Hospitaal getref

Die burgemeester van die beleërde noordelike stad Tsjernihiv se dosyne siviele burgers is dood deur “willekeurige artillerievuur”, en dat ʼn hospitaal getref is. “Die stad het ʼn absolute humanitêre katastrofe beleef,” het hy bygevoeg.

Bomaanval op winkelsentrum in Kiëf

Minstens ses mense is dood toe Russiese magte ʼn winkelsentrum in Kiëf aangeval het, het die stad se burgemeester gesê.

Tyd om te vergader, sê Zelenski

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het dringende gesprekke met Rusland versoek en gesê Jerusalem is dalk “die regte plek om vrede te vind, as dit hoegenaamd moontlik is”.

Turkye sê Rusland, Oekraïne ‘naby aan ooreenkoms’

Die Turkse minister van buitelandse sake, Mevlut Cavusoglu, het gesê Rusland en Oekraïne maak goeie vordering met onderhandelings en “is naby aan ʼn ooreenkoms”.

Turkye het gesê hy is ook gereed om pres. Zelenski en Russiese president Wladimir Poetin te ontvang vir ʼn vergadering.

Diplomate keer terug

Janez Jansa, eerste minister van Slowenië, het gesê die land se diplomate sal “binnekort” terugkeer na Kiëf en hy doen ʼn beroep op ander EU-lede om dieselfde te doen. “Oekraïne het diplomatieke ondersteuning nodig,” het hy gesê.

Hipersoniese wapens

Rusland sê hy het weer hipersoniese missiele afgevuur in Oekraïne en ʼn brandstofopgaarfasiliteit in die suide van die land is verwoes.

Lloyd Austin, Amerikaanse minister van verdediging, sê indien dit bevestig kan word, sal die gebruik van die wapens nie “grensverskuiwend” wees nie.

China ontken dat hy Rusland bewapen

China se ambassadeur in die VSA sê sy land stuur nie wapens aan Rusland om in Oekraïne te gebruik nie. Hy kan nie die moontlikheid uitsluit dat Beijing dit nie moontlik in die toekoms sal doen nie.

Pous veroordeel ‘sinnelose slagting’

Pous Franciskus het die “sinnelose slagting” in Oekraïne veroordeel. Hy doen ʼn beroep op die internasionale gemeenskap om die oorlog te stop. “Daar is geen regverdiging hiervoor nie.”

Azovstal-staalwerke beskadig

Beamptes in Oekraïene sê een van Europa se yster- en staalwerke, Azovstal, is beskadig deur Russiese magte.

Australië plaas verbod op uitvoer van aluminiumoksied en bouksiet

Australië plaas verbod op uitvoer van aluminiumoksied en bouksiet na Rusland en het meer wapens en humanitêre bystand aan Oekraïne beloof. Rusland steun op Australië vir ongeveer 20% van sy aluminiumoksied.

10 miljoen het reeds gevlug

Ongeveer 10 miljoen mense, meer as ʼn kwart van die bevolking, het reeds hul huise in Oekraïne verlaat weens Rusland se “verwoestende” oorlog, het die Verenigde Nasies Sondag gesê. Meer as 3,3 miljoen het die land verlaat.

SA en China ondersteun vrede in Oekraïne

Pres. Cyril Ramaphosa het op Twitter gesê hy en pres. Xi Jinping van China ondersteun albei vredesonderhandeling en wil vrede in Oekraïne bewerkstellig. Hy het gesê hulle het Vrydag ʼn telefoniese gesprek gehad waarin hulle albei hul kommer oor die oorlog in Oekraïne uitgespreek het en dat daar ʼn behoefte is om die vyandelikheid te beëindig en langdurige vrede te bewerkstellig.

“Ons het die behoefte aan humanitêre bystand bespreek vir die mense in Oekraïne en die lot van Afrika-studente in Oekraïne.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.