Lewenslank gevra vir 19-jarige wat saam met broer gesin vermoor

Michael Bever (middel) tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: AP Photo: Sue Ogrocki, File

ʼn 19-jarige Amerikaner wat skuldig bevind is aan die moord op sy ouers en drie sibbe sal volgende maand gevonnis word.

Michael Bever van Oklahoma in die VSA is in Mei op vyf aanklagte van moord en een aanklag van aanranding skuldig bevind.

Die jurie het voorgestel dat Bever tot lewenslange tronkstraf gevonnis word met die moontlikheid van parool. Aanklaers het egter versoek dat die moontlikheid van parool uitgesluit word.

Bever het aan regter Sharon Holmes gesê hy bring die ure in sy tronksel deur om na te dink oor wat gebeur het. Hy het die regter gesmeek vir “die geleentheid om eendag ʼn normale lewe te hê”.

“Elke sekonde en elke minuut dink ek aan wat ek anders kon doen en die soort lewe wat ek saam met my gesin kon hê.”

Bever was 16 jaar oud toe hy en sy broer Robert, toe 18 jaar oud, in Julie 2015 hul ouers en sibbe vermoor het in hul huis in Tulsa. Robert het in 2016 skuldig gepleit en is lewenslange tronkstraf opgelê sonder die moontlikheid van parool.

David en April (inlas) en hul kinders Christopher (links), Crystal (tweede van links), Victoria (onder), Robert (rooi hemp) met Autumn op sy skoot en Daniel (heel regs).

Die broers se pa, David (52), het meer as 28 steekwonde opgedoen en is op die toneel dood. Hulle ma, April (44), is met ʼn stomp voorwerp doodgeslaan en het meer as 48 steekwonde opgedoen. Sy is ook op die toneel dood.

Daniel (12) het nege steekwonde opgedoen aan onder meer sy rug, skouer en bors. Hy kon daarin slaag om 911 te bel voordat hy op die toneel dood is. Die jonger broer, Christopher (7), het ses steekwonde opgedoen en is ook op die toneel dood terwyl Victoria (5) meer as 18 steekwonde opgedoen het en op die toneel aan haar beserings beswyk het.

Chrystal, toe 13 jaar oud, het die aanval oorleef. Haar keel is oopgesny en sy het steekwonde opgedoen. Autumn, toe twee jaar oud, het geslaap tydens die moorde en is nie leed aangedoen nie.

ʼn Brief is Dinsdag in die hof voorgelees waarin die aanneemma van die twee oorlewende susters gesê het hulle sal die res van hul lewe oor hul skouers moet loer indien hul broer later vir parool oorweeg kan word. Die ouer suster het steeds letsels van die aanval en kry erge nagmerries.

Holmes het die saak tot 9 Augustus vir vonnisoplegging uitgestel. Indien Bever tot lewenslange tronkstraf gevonnis word met die moontlik van parool, sal hy nadat hy 38 jaar uitgedien het vir parool kan aansoek doen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Theresa B ·

Liewe hemel – hoekom doen ‘n mens sulke dinge…!!??

Kowa ·

Die straf wat hulle opgelê is lyk darem baie meer na gepaste straf as wat Don Steenkamp en Henry van Breda gekry het. Jammer ons regstelsel werk nie so effektief so Amerika s’n nie.

volla ·

Ek kan jou verseker dat oor die algemeen prisoniers baie vroeer parool kry in Amerika as SA. Hulle word dalk langer gevonnis maar kom gouer uit. Hier by ons word die periodes deur die wet vasgestel.

Geskok!!! ·

Liewe genade!!!! Dis iets verskrikliks!!!! Wat is die motief vir die moorde gewees? Op daai ouderdom dink aan moord en dit op jou eie gesin….. die duiwel is los en lustig!!! Orals!!!!!!

Nettie ·

@Geskok!!! Kyk maar gerus na programme soos “The First Kill” en “Evil Twins” of “Blood Ties” en jy sal agterkom dat daar dikwels ‘n paar universele motiewe agter gesinsmoorde soos dié is: geld en/of erfporsies en/of ‘n geskil in die familie oor ‘boyfriends/girlfriends’ of huweliksmaats.

Kyk maar na die Menendes-broers, wat hul ouers ook wreed vermoor het vir ‘n erfporsie. En op die ou einde, laat goeie speurwerk (ek praat nou nie van die polisie- en speurdiens in die algemeen in Suid-Afrika nie) en DNA-resultate/forensiese ondersoeke tóg die skuldige aan die pen ry. So, “crime does not pay”.

Sandy ·

Vergewe en vergeet is als goed en wel, maar die geweldadigheid waarmee die twee die moorde gepleeg het spreek van kranksinnigheid en haat en passie, want waar kan jy jou eie ouer 48 maal steek en nog met stomp voorwerpe doodmaak, en die kleintjies, ek wil nie eens daaraan dink nie. Nee, ek dink nie jy kan eendag ‘n normale lewe lei nie, want jou moorde was nie normaal nie.

Mimi ·

Gaan lees die kinders se geskiedenis…. hulle was verbaal mishandel en teen n muur gegooi deur hul aggressiewe pa. Die pa het selfs gesê, “remember I can kill you anytime I want” !! Die kinders het tuis onderrig ontvang…en was heeltyd in dai situasie vasgevang. Die uitkoms, is gladnie verbasend nie ! Die oudste seun is met major depressie en psigose in die tronk gediagnoseer.

Pop ·

Mimi dis presies hoekom hulle dit gedoen het. Kinders leer by ouers. Ek glo hulle sou ligter daarvan afgekom het as hulle die kindertjies gelos het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.