Libanon-regering bedank na ontploffing

Hassan Diab. (Foto: Dalati Nohra/Lebanese Government via AP, File )

Libanon se eerste minister het Maandag bedank na die katastrofiese ontploffing in Beirut wat tot openbare woede en onrus gelei het.

Hassan Diab het gesê hy het tot die gevolgtrekking gekom dat korrupsie in die land “groter is as die staat”. Sy bedanking volg na betogings oor die naweek teen die regering. Verlede week se ontploffing het die lewens van meer as 160 mense geëis en meer as 6 000 mense is beseer.

In ’n kort televisie-toespraak nadat drie van sy ministers bedank het, het Diab gesê hy en sy regering bedank.

“Mag God Libanon beskerm,” het hy gesê terwyl betogers vir ’n derde agtereenvolgende dag in die strate naby die parlement betoog het.

Daar is al sedert Oktober massa-betogings in Libanon om te eis dat die regering bedank oor korrupsie, onbevoegdheid en wanbestuur.

(Foto: AP Photo/Felipe Dana)

Diab het sy voorgangers die skuld gegee vir die “aardbewing” wat Libanon getref het. Diab het aanvanklik aangedui dat hy vir nog twee maande in sy pos sal bly om ʼn parlementêre verkiesing te organiseer. Diab se regering is gevorm nadat sy voorganger, Saad Hariri, in Oktober bedank het in reaksie op die betogings.

Die ontploffing is aangevuur deur duisende ton ammoniumnitraat wat vir langer as ses jaar onbehoorlik in die stad se hawe geberg is. Die ontploffing het skade van tussen $10 en $15 miljard aangerig met honderde geboue wat vernietig en duisende mense wat dakloos gelaat is.

Die ammoniumnitraat, ʼn chemikalie wat in kunsmisstowwe en plofstof gebruik word, was afkomstig van ʼn vragskip genaamd MV Rhosus wat in 2013 vanaf Georgië na Mosambiek gereis het. Dit het ʼn onbeplande ompad na Beiroet gevolg aangesien die Russiese eienaar van die skip met skuld gesukkel en gehoop het om ekstra geld in Libanon te verdien. Die skip is geskut en in 2014 is die ammoniumnitraat van die skip verwyder en in ʼn pakhuis in die hawe geplaas waar dit tot die ontploffing geberg is.

(Foto: AP Photo/Hassan Ammar)

’n Franse chemiese kundige wat tans in die hawe werk, het Maandag aan The Associated Press gesê dat sy span besig is om ten minste 20 potensieel gevaarlike chemiese houers daar te beveilig nadat een gevind is wat lek.

Hy het ook gesê dat daar vlambare vloeistowwe in ander houers is, sowel as batterye en ander produkte wat die risiko vir ’n ontploffing kan verhoog.

Minstens 20 mense is ná die ontploffing in hegtenis geneem, waaronder die hoof van die doeane-afdeling en sy voorganger, asook die hoof van die hawe. Tientalle mense is ook reeds ondervra, onder wie twee voormalige kabinetsministers.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Duwweltjie

Sal die ANC regering nie ook die voorbeeld volg nie.

Kokerboom

Kan die ANC pandemie asb navraag doen by mnr Hassan Diab hoe dit gedoen word?!!

Pieter

Hier gaan dit te lekker die ANC teer op ons belasting betalers.

JohanR

Het julle vanmore se hoof berig gesien in al die koerante : Suid Afrika ANC regerig bedank na tender en ander bedrog aan die lug kom tydens Covid-19. Cyril Ramaphosa se jammer aan die nasie, en se soe gou as moontlik sal ‘n regering aangestel word uit al die partye in Suid Afrika, tot tyd en veil in 2021, nog ‘n verkiesing kan gehou word. En daar skrik ek wakker uit my REM slaap!