Lig te midde van duisternis in Sirië

Aleppo, ‘n stad in Sirië, is voor die aardbewing reeds weens jare se oorlog erg beskadig. (Foto: Verskaf)

Toe ʼn aardbewing van 7,8 die suidooste van Turkye en die noorde van Sirië vroeg Maandagoggend in puin gelaat het, het Mike Burnard gewens hy was nog in Aleppo, waar hy net vier dae gelede was. Die stad is ook erg deur die aardbewing getref.

Burnard is ʼn strategiese analis by dia-LOGOS – ʼn groep sendingkonsultante wat kerke help om strategies na die wêreld te kyk. Hy het toe pas saam met sy vrou, Helen, en werksgenoot Andrew Richards van Sirië teruggekom.

Die besoek was deel van ʼn reis van sewe dae waartydens die dia-LOGOS-konsultante besoek afgelê het by kerke en kerkleiers in Damaskus, Homs, Muharda en Aleppo. Hulle het ook die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Sirië en Libanon, Barry Gilder, ontmoet.

Maandag se aardbewing het teen Sondag reeds die lewe van meer as 28 000 mense geëis en Burnard sou graag bystand aan die geaffekteerde inwoners wou bied.

Vanuit die puin

“Dit is bitter hartseer om te sien hoe die mense ly,” vertel Burnard aan Maroela Media, ure nadat die aardbewing wêreldnuus geword het.

Waar hy in sy studeerkamer in George sit, vier dae ná sy besoek aan Aleppo en slegs ʼn paar uur ná die verwoestende aardbewing, is hy oorweldig deur emosie.

“Jy is lief vir die mense. Jy besef waardeur hulle moet gaan.”

Die dia-LOGOS-span het bande met 12 kerke regoor Sirië, waarvan vyf in Aleppo is.

Mike Burnard (heel regs), sv vrou Helen en hul kollega, Andrew Richards. (Foto, Verskaf)

Burnard benadruk dat Aleppo ʼn onstabiele stad is, waarvan 40% tydens die oorlog verwoes is. Weens ʼn gebrek aan behuising het mense ná die oorlog na halfverwoeste huise teruggetrek.

“Dit neem net ʼn ligte skok en daai geboue stort inmekaar. Twee weke gelede het ʼn gebou inmekaargestort en 16 mense is dood,” vertel Burnard.

Die boodskappe wat Burnard uit Sirië ná die aardbewing ontvang het, is oorweldigend.

“Hulle leef met ʼn groot versugting in hierdie stadium, soos hulle wag op moontlike naskokke. Daar word voorspel dat drie tot vier sterk aardskuddings in die volgende twee weke kan voorkom.”

Burnard meen die wêreldwye fokus op en hulpverlening aan Sirië tans sal oor ʼn paar maande opdroog. Dit is dan wanneer trauma en ekonomiese uitdagings werklik onder die inwoners gaan posvat. Daarom moedig hy mense aan om nou al te begin beplan om hulp te verleen, sodat wanneer die wêreld onttrek, daar steeds ondersteuning vanuit die kerk in die noodgesteisterde gebiede is.

ʼn Span van dia-LOGOS in samewerking met die Lighthouse Family Church in Gqeberha (Port Elizabeth) gaan Libanon in April besoek, waar hulle Siriese kerkleiers gaan ontmoet om hulle te bemoedig en ʼn finansiële skenking te oorhandig as noodverligting. Juis vir hierdie rede is Projek Hoop van stapel gestuur.

Dié foto van die stad Aleppo is kort voor die verwoestende aardbewing geneem. (Foto: Mike Burnard)

ʼn Lig vir die wêreld

Hoewel omstandighede in Sirië desperaat is, kon Burnard die hoop en genesing wat gelowiges in gemeenskappe bewerkstellig, eerstehands ervaar.

Hy dink terug aan ʼn gesprek met ʼn gelowige in Sirië: “In Suid-Afrika is die kerk soos spreiligte, maar dit is so lig (in die land) niemand sien dit nie. In die Midde-Ooste is dit so donker dat selfs ʼn klein kersie ʼn verskil maak”.

“Ek kon ervaar hoe die Here regoor Sirië kersies geplant het, en daardie liggies is in die donker tyd besig om te skyn.” Oorweldig deur emosie voeg hy by: “En hoe donkerder dit word, hoe helderder skyn daardie liggies.

Burnard sê kerke is ʼn bron van water, kos en mediese hulp vir baie mense sonder enige vorm van versorging. Daar is geen onderskeid tussen mense nie; die wat in nood is, word gehelp.

“Die mandaat van Christus, om lig en sout te wees, is besig om verwesenlik te word in Sirië, en lig is nie bang vir duisternis nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Realis Thailand ·

Hoekom word die geld wat hulle insamel nie vir SA se armes gebruik nie
Die kerk steek hulle neuse in in lande wat niks met sa te doen het nie
Hier is n groot tekort aan welsyn in SA .

Hennie ·

Waarom SA kerkorganisasies altyd in ander lande, en veral Moslem lande moet gaan krap, gaan my verstand te bowe. Kyk hoe lyk dit in veral swart buurte in SA! Maar nou ja, nie so “glansryk” om in jou eie land te help nie. En jy mis uit op n internasionale reis….

Christine ·

Dis wonderlik dat SAfrikaners ook daar is om te help. Die volkome desperasie en volslae verwoesting is verskriklik. Daai mense smeek om hulp, dis tragies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.