Lisa Montgomery: Laaste poging om teregstelling te stuit

Lisa Montgomery (Foto: Facebook)

Lisa Montgomery, wat na verwagting later vandeesmaand die eerste vrou in 68 jaar gaan word om federaal tereggestel te word, se regspan het pres. Donald Trump gevra om haar te begenadig omdat sy glo aan ʼn geestesversteuring gely het toe sy in 2004 ʼn swanger vrou vermoor het.

Montgomery se prokureurs het in ’n laaste poging om te verhoed dat haar teregstelling op 12 Januarie voortgaan, ʼn brief aan Trump gerig waarin hulle beweer dat hul kliënt met breinskade gebore is en ʼn lewe van mishandeling verduur het voor sy die moord gepleeg het.

“Lisa Montgomery se lewe was gebroke nog voor sy gebore is, gevul met marteling, terreur, mislukking en verraad.

“U alleen het die mag om geregtigheid met genade te balanseer,” lui die brief aan Trump.

“U alleen het die mag om ʼn boodskap aan duisende vroue te stuur wat die slagoffer was van verkragting en mensehandel in die kinderjare, dat hul pyn saak maak – dat hulle saak maak, dat hulle waarde het.”

Montgomery se prokureurs vra dat haar doodstraf omgeskakel word na tronkstraf sonder die moontlikheid van parool.

Montgomery is in 2004 skuldig bevind op aanklag dat sy die 23-jarige Bobbie Jo Stinnett van Missouri, wat agt maande swanger was, verwurg en toe die baba uit haar maag gesny en “ontvoer” het.

Montgomery het destyds van haar huis in Kansas na Stinnett se huis in Skidmore gery en voorgegee dat sy ʼn hondjie wil aanneem. Toe sy by die huis aankom, het Montgomery ʼn tou gebruik om Stinnett mee te verwurg. Stinnett was by haar bewussyn en het probeer om haarself te verdedig toe Montgomery ʼn kombuismes gebruik het om die baba uit haar maag te sny.

Aanklaers het gesê Montgomery het die baba aangeneem en probeer om die kind as haar eie groot te maak.

Montgomery se regspan het vantevore al aangevoer dat sy aan geestesversteurings gely het toe sy Stinnett vermoor het, maar die regter het haar verdediging verwerp. Haar advokate het ook aangevoer dat sy aan ʼn toestand genaamd pseudoswangerskap ly, wat daartoe lei dat ʼn vrou valslik glo dat sy swanger is en uiterlike tekens van ʼn swangerskap toon.

Die laaste federale teregstelling van dié van Bonnie Brown Heady op 18 Desember 1953. Heady is in ʼn gaskamer in Missouri tereggestel nadat sy skuldig bevind is aan moord en ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.