Lokprent vir ‘Avatar’-opvolgfliek eindelik vrygestel

(Foto: Skermgreep/YouTube)

Aanhangers van James Cameron se gewilde wetenskapfiksie-fliek Avatar sal op 16 Desember 2022 uiteindelik weer saam met Jake Sully kan terugreis na die anderwêreldse planeet van Pandora.

Die eerste amptelike lokprent vir dié bekroonde regisseur se langverwagte fliek Avatar: The Way of Water, is pas vrygestel en het reeds meer as nege miljoen trefslae op YouTube.

Avatar is ʼn futuristiese liefdesverhaal tussen ʼn voormalige soldaat, Jake Sully, en Neytiri, ʼn boaardse vroulike wese, wat afspeel te midde van konflik tussen die mensdom en die Na’viwat-volk van die planeet Pandora in die 22ste eeu.

In die kort lusmaker vir die jongste aflewering sien kykers ʼn gelukkige Sully en sy nuutgevonde familie wat op Pandora gevorm is, maar wanneer ou vyande terugkeer, moet hy saam met Neytiri en die leër van die Na’vi-ras werk om hul idilliese planeet te beskerm.

‘n Amptelike plakkaat vir ‘Avatar: The Way of Water’. (Foto: @avatar/Instagram)

Zoe Saldana en Sam Worthington keer terug vir hul rolle as “Neytiri” en “Jake Sully” en ʼn paar nuwe gesigte, onder andere dié van Kate Winslet, Michelle Yeoh en Oona Chaplin, sluit by die rolverdeling aan.

Die langverwagte opvolgfliek van dié trefferfilm is aanvanklik vir 2014 beplan, maar  ʼn gebrek aan tegnologie wat nodig was vir sekere visuele skote, veral dié wat onder water afspeel, het egter tot aansienlike vertragings gelei.

Verfilming vir Avatar: The Way of Water het in 2017 begin en in 2020 afgesluit nadat die Covid-19-pandemie produksie nóg verder vertraag het. Drie bykomende vervolgverhale word reeds vir 2024, 2026 en 2028 beplan.

Die eerste Avatar-aflewering, wat ongeveer vier jaar geneem het om te vervaardig en in 2009 bekendgestel is, is die fliek wat tot dusver die meeste nóg by die loket verdien het, met ʼn algehele verdienste van meer as $2,8 miljard.

Cameron se legendariese 1997-rolprent Titanic – waarin Winslet ook te sien was – staan in die tweede plek met ongeveer $2,2 miljard.

Bronne: IMBd, Variety

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E ·

Ek dink almal om my weet hoeveel ek Avatar haat, totale gemors.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.