Buitelandse en Indonesiese toeriste word ontruim van die gewilde vakansie-eilande noordwes van Lombok ná ʼn sterk aardbewing Sondag die gebied getref het.
Indonesië se nasionale rampbestuuragentskap het intussen gesê die dodetal staan op 91 en kan selfs verder styg, aangesien reddingsbeamptes nog nie die dele op die eiland bereik het wat die ergste getref is nie. Sutopo Purwo Nugroho, woordvoerder, het gesê daar is “baie groot skade” in die noorde van Lombok ná die aardbewing Sondagaand. Hy het gesê duisende huise en ander geboue is beskadig en meeste sterftes is weens huise wat ineengestort het.
Nugroho het bevestig nie een van die sterftes op die drie eilande, Gili Trawangan, Gili Meno en Gili Air is toeriste nie.
Drie skepe het tot dusver reeds 1 000 toeriste ontruim.
Pres. Joko “Jokowi” Widodo het kabinetministers en die weermag en polisiehoofde opdrag gegee om die rampverligtingsproses te versnel.
Die model Chrissy Teigen en haar man, die sanger John Legend, en hul twee kinders het ook die skudding gevoel tydens hul vakansie in Bali. Sy het haar skok en kommer op sosiale media uitgespreek.
Australië se minister van binnelandse sake het op Twitter bevestig hy en sy afvaardiging is veilig in donkerte uit die hotel ontruim. Hulle was op die eiland besig met ʼn streeksveiligheidskonferensie. Peter Dutton het aan Fairfax Media gesê hy was op die hotel se 12de verdieping toe die aardbewing plaasgevind het.
ʼn Tsoenami-waarskuwing wat vroeër uitgereik is, is intussen opgehef.
- Werkers verwyder puin ná die aardbewing (6 Augustus 2018) Foto: AP Photo/Firdia Lisnawati
- Skoonmaakwerk begin by ‘n gebou ná die aardbewing (Foto: AP Photo/Firdia Lisnawati)
- Pasiënte is uit ‘n hospitaal ontruim (6 Augustus 2018) (Foto: AP Photo/Firdia Lisnawati)
- Pasiënte is uit ‘n hospitaal ontruim (6 Augustus 2018) (Foto: AP Photo/Firdia Lisnawati)
- Model Chrissy Teigen (November 2017) (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP,File)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
3 Kommentare
dit is skokwekend wat so aardbewing kan doen dankie tog dit is nie nog iets wat rsa ons oor bekommer nie.wat was die richter leesing??