Londen-bomaanvalle: ʼn Suid-Afrikaner in Londen onthou

Beamptes van die Londense brandweer het Dinsdag die bomaanvalle herdenk.

Beamptes van die Londense brandweer het Dinsdag die bomaanvalle herdenk.

Die Londense bomaanvalle wat 10 jaar gelede plaasgevind het, word vandag herdenk.

Londenaars was Woensdagoggend, 6 Julie 2005, op pad werk toe en het gewonder of hul stad suksesvol sou wees in hul aansoek om die 2012 Olimpiese Spele aan te bied. Later op dieselfde dag het ʼn gevoel van euforie oor Londen gespoel toe dit bekend gemaak is dat hulle bod suksesvol was.

Die volgende dag het egter katastrofiese gevolge ingehou. 7 Julie 2005 sal vir ewig in die geskiedenis opgeteken wees as 7/7. Op hierdie dag is ʼn reeks gekoördineerde selfmoordbomaanvalle in sentraal-Londen uitgevoer. ʼn Totaal van 52 mense, uitsluitend die vier selfmoordbommers, is dood. Honderde mense is beseer in die besige middestad.

Greg Sherman, ʼn Suid-Afrikaner wat na Londen verhuis het, onthou hierdie dag baie goed. Toe die eerste bom ontplof het, was die publiek onbewus dat dit ʼn terreuraanval was. “ʼn Kollega by die skool waar ek gewerk het, het vertel dat daar ʼn voorval op die ondergrondse treinnetwerk was en dat ek my familie in Suid-Afrika so spoedig moontlik moet bel om hulle gerus te stel. Ek het my suster in Suid-Afrika gebel en vir haar gesê om nie bekommerd te wees nie, dat ek reeds by die skool is en dat dit nie ʼn terroriste-aanval is nie.”

Die nuus het toe begin deurkom dat daar nog voorvalle in die middestad was. Die realiteit dat ʼn terreuraanval was, het tot die nasie begin deurdring.

“Tydens eerste pouse by die skool is ʼn televisie in die personeelkamer aangeskakel en die eerste beeldmateriaal van die bus in Tavistock Square is uitgesaai. Die bus se hele dak is vernietig tydens die ontploffing. Die aanval was anders as die 9/11-aanval in die VSA, omdat die grootste deel van die verwoesting ondergronds was. Die volle omvang van die aanval was daarom eers in die dae en weke ná die aanval bekend gemaak.

“’n Kollega was in trane, want sy kon nie haar lewensmaat in die hande kry nie. Hy het in die stad gewerk en het die ondergrondse trein gebruik om na sy werk te pendel. Gelukkig het hy haar teen middagete gekontak en gesê dat hy nie geraak is deur die gebeure nie. Die hele skool was in ʼn toestand van nood. Personeellede moes beplan hoe kinders die middag terugbesorg gaan word aan hul ouers, aangesien baie van die vervoerkanale totaal onbruikbaar was. Die logistiek van die situasie was ʼn nagmerrie.”

Sherman het daardie dag drie en ʼn half ure lank gestap om by sy huis te kom. “Ek kon nie verstaan hoekom die mense wat ek teëgekom het op my reis huis toe nie in ʼn somber gemoedstoestand was soos ek nie. Dit was asof hulle onbewus was van die moeilike tyd waardeur van die gesinne in Londen gegaan het. Een van die plaaslike mense het my meegedeel dat dit die enigste manier is om die terreuraanval te oorwin – deur aan te hou om te leef soos wat ons nog altyd doen. Ek verstaan vandag wat hy bedoel het.”

Volgens Sherman is hy nie seker hoe die aanvalle Londen verander het nie, maar hy het opgelet dat veiligheid strenger is, dat rassespanning bestaan en dat daar in besiger tye altyd ʼn polisieteenwoordigheid is.

“Ontelbare lewens is beïnvloed en vir ewig verander deur die gebeure van daardie dag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Te verstane sal op regeringsvlak die bomaanvalle soos byv. die Kerkstraatbom nie herdenk word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.