Londen-brand: Dodetal styg

Die uitgebrande Grenfell Tower-gebou in Londen (15 Junie 2017). Foto: AP Photo/Frank Augstein

Brandbestryders het Donderdag die laaste vlamme geblus van die brand wat ʼn 24-verdieping woonstelblok in die weste van Londen verwoes en tot die dood van minstens 17 mense gelei het.

Dany Cotton, Londense brandweerkommissaris, het gesê brandbestryders is besig om na nog slagoffers te soek, aangesien gesinne steeds vermis word. Volgens Cotton weet die owerhede nog nie presies hoeveel mense in die brand gesterf het nie en is brandbestryders getraumatiseerd omdat hulle nie meer mense kon red nie.

“Dit is baie tragies, maar ons verwag nie om nog iemand lewend te vind nie,” het Cotton aan Sky News gesê. “Die felheid en hitte van die brand was so erg, dit sal ʼn absolute wonderwerk wees indien enigiemand lewend gevind word.”

Meer as 200 brandbestryders het deur die nag gewerk en dele van die gebou is steeds nie veilig verklaar nie. Al wat nou oorbly is die massiewe uitgebrande gebou in die middel van die werkersklasbuurt.

Maroela Media het vroeër berig die brand het Woensdag in die vroeë oggendure in die Grenfell Tower-woonstelgebou in Noord-Kensington begin. Altesaam 74 mense is beseer, van wie 18 nog kritiek is. ʼn Onbekende aantal mense word vermis.

Die uitgebrande Grenfell Tower-gebou in Londen (15 Junie 2017). Foto: AP Photo/Frank Augstein

Ongeveer 600 mense het in die 120 woonstelle in Grenfell Tower gewoon. Verskeie huurders het jare lank gekla dat die gebou ʼn brandrisiko inhou.

Theresa May, Brittanje se premier, het onderneem dat ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand gedoen sal word. Sy het gesê sy beplan om vandag die toneel te besoek. Sadiq Khan, burgemeester van Londen, het gesê baie vrae moet beantwoord word oor die veiligheid van verskeie woonstelgeboue in die stad.

Muna Ali (45), ʼn vrou wat die brand oorleef het, het gesê die brand het haar aan die 9/11-tragedie herinner. “Die vlamme, ek het nog nooit so iets gesien nie. Die brand het op die hoër vloere begin. Goeiste, dit het so vinnig versprei. Dit het binne ʼn halfuur oral versprei.”

Meer as £1 miljoen (meer as R16 miljoen) is reeds ingesamel om slagoffers van die tragedie by te staan en vrywilligers en liefdadigheidsorganisasies het deur die nag gewerk om skuiling en kos vir die mense te kry wat hul woonplekke verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.