Londen-brand: Polisie bevestig dodetal

Die woonstelblok in Londen waar daar Woensdag (14 Junie 2017) ʼn reuse-brand uitgebreek het. Foto: Xinhua/Han Yan

Die Londense metropolisie het Woensdag bevestig ses mense is dood nadat ʼn 24-verdieping-woonstelblok in die stad in die vroeë oggendure deur vlamme verswelg is.

Die polisie het in ʼn verklaring gesê altesaam 64 mense is deur ambulanse na ses verskillende hospitale in Londen gehaas, terwyl nog tien beseerdes self by hospitale aangemeld het. Van die beseerdes is 20 mense in ʼn kritieke toestand.

“Dit is nog in ʼn baie vroeë stadium en ons verwag dat die dodetal sal styg gedurende die fynkam van die gebou oor die volgende paar dae,” het Stuart Cundy, bevelvoerder by die metropolisie, gesê. “Ons medelye gaan uit aan almal betrokke by hierdie absoluut skokkende brand by Grenfell Tower.” Hy het gesê die identiteit van die oorledenes kan nog nie bevestig word nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het omstreeks 01:15 by die Grenfell Tower-woonstelblok in Noord-Kensington ontstaan. Hoewel dit nog nie duidelik is wat die oorsaak van die brand was nie, het inwoners gesê dit het vermoedelik by ʼn woonstel op ʼn laer verdieping begin en vinnig na bo versprei.

Brandbestryders op die toneel waar ʼn reuse-brand Woensdag (14 Junie 2017) by ʼn woonstelblok in Londen uitgebreek het. Foto: Xinhua/Han Yan

Die Londense brandweerdienste het gesê 45 brandweerwaens en 200 brandbestryders is na die toneel gestuur en hulle moes ure lank spook om die vlamme in bedwang te kry. Dany Cotton, Londen se brandweerkommissaris, het vanoggend gesê sy het nog nooit só ʼn brand in haar 29 jaar as brandbestryder gesien nie.

Verskeie inwoners van omliggende geboue is na veiligheid geneem en sommige moes hul blyplekke met hul troeteldiere in hul arms verlaat. Cundy het ʼn beroep op inwoners wat uit die brandende gebou verwyder is, gedoen om by die tydelike noodsentrum by die Portobello-rugbyklub aan te meld sodat die polisie kan rekenskap gee van al die inwoners van die gebou. “As jy nie in staat is om by die sentrum uit te kom nie, praat met ʼn polisiebeampte wat jou sal bystaan,” het Cundy gesê.

Hy het ook ʼn beroep op die publiek gedoen om weg te bly van die gebied af terwyl die nooddienste en owerhede steeds daar besig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Deneysville ·

Op Deneysville is dit al vir ten minste 5 jaar dat brandkrane in ‘n haglike toestand is. Daar is selfs van die krane wat toegegooi is onder grond. Die naaste brandweer is op Sasolburg sowat 35 km weg.
Vir bykans 2jaar het ‘n ongelukbeskadigde brandweerwa hier op Deneysville op die gronde van die polisiestasie gelê.
Die eerste Londense brandweerwa was binne 6 minute op die toneel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.