Londen-dirigent ontken bewerings

Dirigent Charles Dutoit (Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Die bekroonde dirigent Charles Dutoit het Saterdag ernstige beskuldigings van seksuele wangedrag ontken. Groot simfonie-orkeste in Europa, Australië en Amerika het intussen alle bande met hom opgeskort.

Dutoit se kantoor het ʼn verklaring uitgereik en gesê daar steek “geen waarheid” in die bewerings nie en onderneem om hom te verdedig. Die Associated Press het vroeër vandeesweek berig drie sangeresse en ʼn musikant het hom van seksuele aanranding beskuldig.

“Hierdie bewerings is vir my net so ʼn groot skok as vir my vriende en kollegas. Ek herken nie die man of die optrede wat in die media beskryf word nie,” het Dutoit per e-pos aan die Associated Press gesê.

“Alhoewel informele fisiese kontak algemeen in die kunswêreld voorkom as ʼn wedersydse teken van vriendskap, steek daar geen waarheid in die ernstige beskuldigings van gedwonge fisiese kontak nie. Ek het regsadvies bekom en beplan om myself te verdedig en ek glo binne hierdie huidige klimaat help mediabeskuldigings oor ernstige fisiese mishandeling nie om die kwessies behoorlik aan te roer indien die bewerings nie waar is nie.”

Die 81-jarige Dutoit is artistieke direkteur en hoofdirigent van die Koninklike Filharmoniese Orkes in Londen. Die orkes het Vrydag gesê hy het ʼn gesamentlike besluit met Dutoit geneem om hom van alle toekomstige konsertverpligtinge op te hef.

Agt groot simfonie-orkeste het sedert Donderdag jarelange bande met Dutoit opgeskort toe die Associated Press ʼn berig gepubliseer het met grafiese beskuldigings deur die vier vroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.