Londen hernu nie Uber-lisensie

Foto: Metropolitan Police Service/Facebook

Die vervoerreguleerder Transport for Londen (TfL) het besluit om nié ʼn nuwe lisensie aan Uber uit te reik om in dié stad sake te doen nie.

Die reguleerder is van mening dat die taxi-app nie veilig genoeg is nie, omdat kliënte toegelaat word om saam met bestuurders te ry wat moontlik nie gelisensieer of verseker is nie.

Uber het reeds in 2017 sy lisensie verloor om sy dienste in Londen te bedryf, weens ʼn gebrek aan veiligheid. Die lisensie is egter vir 15 maande en later ʼn verdere twee maande verleng. Dié verlenging het Sondag verval, berig die BBC.

Helen Chapman, hoof van lisensiëring by TfL het aan die BBC gesê veiligheid is hulle hoogste prioriteit. “Hoewel ons besef dat Uber verbeterings aangebring het, is dit onaanvaarbaar dat kliënte toegelaat word om in ʼn voertuig te klim met bestuurders wat nie gelisensieer of verseker is nie,” sê Chapman.

Uber sê egter die besluit is “verkeerd”, aangesien dié diens die afgelope twee maande ʼn oudit van elk van hul 45 000 motorbestuurders in Londen gedoen het. “Ons het ons onderneming die afgelope twee jaar tot só ʼn mate aangepas dat ons ʼn hoë standaard vir veiligheid stel,” sê Jamie Heywood, streeksbestuurder van Uber in Noord- en Oos-Europa.

ʼn Uber-bestuurder van Gordonsbaai is onlangs van onbehoorlike gedrag aangekla nadat hy glo voor ʼn vrouepassasier gemasturbeer het.

Die nuusdiens Bloomberg het boonop in Augustus berig dat Uber ʼn rekordverlies van $5,2 miljard in die kwartaal tot einde Junie gely het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gawie Galblaas

Waar is Londen ? …..daar is wel n London.

Tante

Kyk net bietjie oos daar sal jy Oos Londen kry

Lodon

Vir interessantheid, in SA is dit in Seepunt, maar die artikel praar hulle van Europa.

Piet

Dis reg , Almal dink Uber is so veilig , Het julle al gesien hoe ry uber drywers hier in SA , Presies soos taxis , gaan kyk op witkoppen , verhoorsaam geen pad reels nie , Daar is nie manier wat my familie saam n Uber ry nie

Elizabeth

Ek ry ook nie meer met Uber nie. Hulle app werk nie altyd nie. Ek moet egter sê in Pretoria is die Uberbestuurders besonder vriendelik en bestuur hulle oor die algemeen goed. Is daar enige alternatiewe vir Uber?