Londen-terreuraanval: Dodetal styg

‘n Helikopter land op die Londen-brug in Londen (3 Junie 2017). Foto: AP Photo

Die getal mense wat gesterf het ná ʼn terreuraanval Saterdagaand op die Londen-brug in Londen, Engeland, het tot sewe gestyg.

Cressida Dick, die plaaslike metropolitaanse polisiekommissaris, het Sondag aan verslaggewers gesê sewe van die slagoffers van die aanval het gesterf en minstens 48 is beseer. Sommige mense het lewensbedreigende beserings opgedoen.

Dick het gesê die polisie het patrollerings in die gebied verskerp en het ʼn beroep op die stad se inwoners gedoen om “kalm te bly en paraat te wees”. Sy het gesê die polisie is steeds besig om die toneel deeglik te fynkam.

Maroela Media het vroeër berig ʼn bussie het Saterdag in voetgangers op die Londen-brug ingeploeg voordat drie aanvallers mense by nabygeleë kroeë en restaurante met messe aangeval het. Die polisie het al drie aanvallers doodgeskiet. Die voorval word as ʼn terreuraanval hanteer, maar niemand het nog amptelik aanspreeklikheid daarvoor aanvaar nie.

Gewapende polisiebeamptes loop met ʼn snuffelhond in die gebied rondom Londen-brug (4 Junie 2017). Foto: AP Photo/Matt Dunham

Intussen het Theresa May, die Britse eerste minister, Sondag gesê die komende Britse algemene verkiesing sal steeds eerskomende Donderdag voortgaan soos beplan. “As ʼn teken van respek het twee politieke partye hul nasionale veldtogte vir vandag opgeskort, maar geweld kan nooit toegelaat word om demokratiese prosesse te ontwrig nie. Daarom sal hierdie veldtogte more ten volle hervat en die verkiesing gaan Donderdag voort soos beplan,” het May gesê kort nadat die kabinet ʼn noodvergadering gehou het.

Emmanuel Macron, president van Frankryk, het Sondag gesê Franse burgers was deel van die slagoffers wat tydens die aanval beseer is. Macron het die aanval as “afskuwelik en lafhartig” beskryf en gesê Frankryk sal voortgaan om teen terreur te veg. Volgens Macron sal die Franse owerhede die Franse slagoffers bystaan. Frankryk verkeer steeds in ’n noodtoestand ná ʼn reeks aanvalle deur die Islamitiese Staat (Isis).

ʼn Man vertroos ʼn vrou kort ná middernag terwyl hulle wegstap van die Londen-brug waar die aanval vroeër plaasgevind het (4 Junie 2017). Foto: AP Photo/Matt Dunham

Mariano Rajoy, die Spaanse eerste minister, het Sondag ook sy medelye en ondersteuning teenoor Brittanje uitgespreek. Paolo Gentiloni, Italië se eerste minister, het op Twitter gesê “ons is almal verenig ter herdenking van die slagoffers”. Rodrigo Duterte, president van die Filippyne, het sy simpatie uitgespreek en gesê sulke aanvalle raak nie net die mense van Londen nie, maar alle vredeliewende mense wat deel is van ʼn globale gemeenskap.

Angela Merkel, Duitse kanselier, het Sondag in ʼn verklaring gesê sy was hartseer en ontsteld om van die terreuraanval in Londen te hoor. Sy het gesê in die stryd teen terreur staan Duitsland ferm aan Brittanje se kant. “Vandag is ons verby alle grense verenig in ons skok en hartseer, maar ook in ons vasberadenheid,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dirk ·

Om die een of ander rede kan ek nie sê dat die voorvalle my ontstel nie. Die wêreld – hierby ingesluit baie Afrikaners – veroodeel Hitler vir bewerings deur sogenaamde Joodse slagoffers. Die Engelse se gedrag teenoor die Boer, sy vrou en kinders word onveroordeeld gelaat. Daar is genoeg bewyse vir die volksmoord. Gemaalde glas in ‘n kind se kos? ‘n Kind dae sonder kos? Hel!

Jammer, maar hulle kan van die aarde afgeblaas word. Alles wat na die eerste Vryheidsoorlog tot op hede met my Volk gebeur het kan direk voor die walglike Britte se deur gelê word.

Die spil was nog nooit ooit eerbaar gewees nie. Nêrens waar hulle ooit voet aan wal gesit het, het hulle eerbaar opgetree nie. Die Arabiere het sekelik die deel van die geskiedenis ook in gedagte as hulle optree soos nou!

4000 vroue- en 23 000 kindersiele roep om wraak! Hulle het oor die 400 000 soldate nodig gehad om dit reg te kry? Wat se eer moes dit vir daardie soldate gewees het?

Remlut Froggiem ·

Dit is verstommend om te weet dat platvloerse mense so dekades terug in die verlede kan leef, so al asof SY kant van die vrorige oorloe skoon was ? Dit is so kleinlik en kinderagtig.

Cherokee ·

Dirk, dit is soort van met gemengde gevoelens wat ek jou lees. Gemengde gevoelens want ek voel so sterk as jy oor wat in die Brits-Boere oorloë gebeur het, maar ek weier steeds om die ‘glas in ‘n kind se kos’storie te glo. Iets binne in my sê dit is snert. Dit is soos my oupa wat vertel het van die rooinekke wat by ‘n turksvybos stilgehou het met hul perde en denkende dat dit perskes is, dit voor in hul hemde gegooi het. Die feit dat ek nie die glas in die kos glo nie, verander steeds nie my gevoel oor die Engelse wat, toe daar goud in Johannesburg ontdek is, Suid Afrika oorrompel het en afgeneem het van die regmatige eienaars, soos in taking candy from a baby. Ek voel soos jy oor die Engelse.

Gemengde gevoelens het ek gesê, want as jy sê dat die huidige Britte van die aarde afgeblaas kan word oor wat in die Vryheidsoorlog gebeur het, dan gee jy die swartes reg om Suid Afrikaanse jongelinge wat na 1994 gebore is, verantwoordelik te hou vir apartheid.

hannes marais ·

solank as wat europa n oop grens beluid gaan he gaan terrorisme in europa plaasvind…dis maar deel van die elite se plan om die wereld in chaos te dompel…

Cherokee ·

Ek nie hannes, met redes wat ek voorgelê het. Indien jy met my wil verskil sal ek graag jou redes wil sien.

vermeulen ·

Die Britte was die eerstes met konsentrasie kampe.
Ek voel ‘n veer vir hulle. My grootouers het ons vertel wat in die S A konsentraisekampe gebeur het. Hulle was albei daar toe hulle kinders was. Dit was hel.

noustrop ·

Dit is jammer as ons eie Suid-Afrikaners nie kan glo wat alles in die konsentrasiekampe in S A gebeur het nie. My familie was daar en het ons goed ingelig daaroor . Miskien wil hulle dit nie glo nie omdat dit so erg was en hulle harte seermaak, Denial. Dit is egter waar en die Britte het skotvry daarvan afgekom en toe het nog die vermetelheid gehad dat ons saam met hulle teen die Duitsers moes veg. Vandaar die Rebellie van1914. Ek sou ook nie. Gelukkig was daar van die boere wat teen die Britte geveg het met wapens wat hulle van die Duitsers in die ou Suid-Wes gekry het.
Nee wat van die Britte wil ek niks weet nie. Hou verby. Lees ook die gedig Vergewe en Vergeet – en dit sal baie insig lewer.

pietie ·

Terreur bly verkeerd. Onthou dat kollektiewe skuld ook moreel verkeerd is,

Wessel ·

Alle persone wat bande met radikale organisasies het, behoort verban te word.

Cherokee ·

Dit wat julle terurgroepe noem, as radikaal bestempel is (byna) sonder uitsondering altyd islamiete. Dit is altyd moslems. Of dit onkunde is weet ek nie maar dit word nooit uitgewys nie.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek het grootgeword met die aaklige geskiedenis van die Boere-oorlog, maar ongeag my gevoelens moet ons weet: “yOU CANT LIVE LIFE BACKWARDS”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.