Londen-terreuraanval: Dodetal styg

Paramedici laai ʼn beseerde persoon in ʼn ambulans buite die Britse parlement in Londen (22 Maart 2017). Foto: AP Photo/Matt Dunham

Paramedici laai ʼn beseerde persoon in ʼn ambulans buite die Britse parlement in Londen (22 Maart 2017). Foto: AP Photo/Matt Dunham

Niemand het nog verantwoordelikheid aanvaar vir die dodelike terreuraanval Woensdag by die Britse parlementsgebou in Londen nie.

Vyf mense is dood en minstens 40 ander beseer toe ʼn enkele aanvaller met ʼn motor in voetgangers op die Westminster-brug ingejaag het, voordat hy ʼn polisiebeampte binne die hekke van die parlement met ʼn mes doodgesteek het.

Tobias Ellwood, Britse adjunkminister van buitelandse sake wie se broer in 2002 in Bali in ʼn terreuraanval doodgemaak is, het vergeefs mond-tot-mond-asemhaling op die gewonde polisiebeampte toegepas. Net ʼn paar meter weg het die liggaam van die aanvaller gelê.

Theresa May, die Britse eerste minister, spreek die media buite 10 Downing Street in Londen toe (22 Maart 2017). Foto: AP Photo

Theresa May, die Britse eerste minister, spreek die media buite 10 Downing Street in Londen toe (22 Maart 2017). Foto: AP Photo

Theresa May, die Verenigde Koninkryk se eerste minister, het die aanval as “siek” beskryf. Een van die vyf oorledenes is die aanvaller wat deur polisiebeamptes doodgeskiet is. Personeel en besoekers is nie toegelaat om die parlement in of uit te gaan terwyl polisiebeamptes die gebied gefynkam het vir nog verdagtes nie.

Drie van die voetgangers wat op die brug raakgery is, het ook gesterf. ʼn Dokter wat die beseerdes op die brug behandel het, het hul beserings as “rampspoedig” beskryf. Een van die beseerdes is uit die rivier gered. Drie polisiebeamptes, talle Franse tieners op ʼn skooluitstappie, twee Romeense toeriste en vyf Suid-Koreaanse toeriste is onder die beseerdes.

Die polisie het gesê die aanval word met terreur verbind, hoewel niemand nog verantwoordelikheid daarvoor aanvaar het nie.

Gewapende polisiebeamptes buite die Britse parlement in Londen (23 Maart 2017). Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Gewapende polisiebeamptes buite die Britse parlement in Londen (23 Maart 2017). Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Mark Rowley, Scotland Yard se hoof van teen-terrorisme, het gesê Islamitiese ekstremisme is vermoedelik die motief vir die aanval. Hy het gesê owerhede glo hulle het reeds die aanvaller se identiteit vasgestel, maar kan dit nog nie bekendmaak terwyl die ondersoek aan die gang is nie.

Die bedreigingsvlak vir internasionale terreur in die VK was reeds as ernstig gestel, wat beteken ʼn kans vir ʼn aanval is hoogs waarskynlik. May het Woensdag buite 10 Downing Street gesê die vlak sal nie verander word nie. Sy het gesê die parlement sal vandag soos gewoonlik vergader.

“Londenaars en besoekers sal saam vorentoe beweeg, nie swik onder die terreur en nooit toelaat dat die stemme van haat en boosheid ons uitmekaar dryf nie,” het May gesê.

Vanuit die VSA het pres. Donald Trump sy medelye aan Londen uitgespreek en in Parys is die ligte van die Eiffel-toring verdoof in solidariteit met Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dereck Le Roux ·

Die Britte het toegelaat dat die ANC en SAKP aanvalle op sagte teikens in hul veilige vestings wat aan hulle verskaf was deur Haar Majesteit se regering om in Suid Afrika dood en verwoesting te saai sonder om die leed en verlies in ag te neem van die slagoffers onder die dekmantel van anti apartheid steun en hulle het nooit rekening gehou dat hulle self eendag weer met ‘n terroriste bedreiging sal moet sit nie, die bloed van die onskuldige slagoffers roep uit na Haar Majesteit se regering wat alles gedoen het vir “Queen & Country”. Ek is jammer vir die dood en beserings van onskuldige mense maar het hulle ooit jammer vir ons en ons mense gewees selfs tot vandag toe?

Suid-Afrikaner in Londen ·

Ons mense is in Londen ook. Niemand verdien so iets nie.

Jef ·

Europa het geen idee oor hoeveel potensieele terreuraanvallers hulle huisves nie of miskien weet hulle dit wel maar onderneem geen staatsregtelikke aksies nie.
Daar word baie gedebateer maar weinig tot niks gedoen.

BS ·

Niemand hoef nie. Die mense verantwoordelik se stempel is daarop. Islam radicals.

Lampies ·

Die Britte gooi self gif in hulle pot en dra nou die gevolge.

Jakalas ·

Ek noem dit ‘n gewone dag in SA. Nog nie eers te reken oor nog ‘n aanval op ‘n plaas nie. As ‘n plaas aanval op dieselfde manier gehanteer kon word as hoe hierdie “teruur” aanval hanteer word, sou plaas moorde iets van die verlede gewees het.

Tipies ·

Dis so tipies van Suid-Afrikaners om alles altyd oor hulself te maak. Dis eintlik pateties. Kan nie jammer voel vir enige ander nasie nie, want ons kry onsself te jammer.

Pendoring ·

Ek is baie jammer vir die mense wat seer gekry het en oorlede is. Het die Britte al ooit om verskoning gevra vir die verskroeide aarde beleid wat hulle in beide Amerika en Suid Afrika toegepas het? Ek dink hulle is nou besig om te maai wat hulle so geil gesaai het jare gelede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.