‘Lord of the Rings’-skrywer se huis vir miljoene te koop

Tolkien se huis in Oxford (Foto: Breckon & Breckon via BBC)

JRR Tolkien, een van die mees ikoniese fantasieskrywers ter wêreld, se voormalige huis is op die mark vir £4,5 miljoen (ongeveer R90 miljoen). Die sesslaapkamerhuis in Northmoor Road in Oxford is verlede jaar Oktober in die mark gesit.

Luidens ʼn BBC-berig het Tolkien The Hobbit en dele van die Lord of the Rings-trilogie in dié einste huis geskryf. Chris Dixey, die agent van Breckon & Breckon-eiendomsagentskap wat die huis gelys het, sê hierdie besondere baksteenhuis vorm deel van die inspirasie agter die ikoniese skrywer se boeke.

Die huis was Tolkien se tuiste van 1930 tot 1947 en word beskou as ʼn integrale deel van Oxford se geskiedenis. Dit is ook in een van die duurste gebiede in Oxford geleë.

Tolkien se gedenkplaat (Foto: Breckon & Breckon via BBC)

Dié baksteenhuis dateer uit 1923 en ʼn blou gedenkplaat ter nagedagtenis van Tolkien is teen die huis se buitemuur vasgemaak. Die huis staan op ʼn ruim groen erf en is in die noordelike voorstad van Oxford geleë.

Die huis bestaan uit twee verdiepings en beslaan bykans 4 000 vierkante meter (m²).

Die huis is vir die eerste keer in 2004 vir meer as £1,5 miljoen (sowat R30 miljoen) deur ʼn private koper gekoop.

Tolkien is in 1973 oorlede, maar sy nalatenskap bly voortleef deur sy boeke wat later in flieks omskep is. Amazon Studios het onlangs aangekondig ʼn Lord of the Rings-televisiereeks gaan eersdaags op die skerms te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.