Los Angeles binne 2 jaar ‘goed geskud’

Die bekende Hollywood-teken in Los Angeles Foto: Patrick Blaise, Pixabay

Die bekende Hollywood-teken in Los Angeles Foto: Patrick Blaise, Pixabay

Die kanse is 99,9% dat Los Angeles binne die volgende twee en ‘n half jaar deur ’n sterk aardbewing van 5 of meer op die momentmagnitudeskaal getref kan word, volgens ‘n studie wat pas in die Earth and Space Science gepubliseer is.

Die US Geological Survey het vroeër die kanse op so ’n aardbewing op 85% binne die twee en ’n half jaar voorspel.

Die aardbewing sal egter nie in die bekende San Andreas-verskuiwingsvlak plaasvind nie, maar in ’n netwerk van onderling verbinde verskuiwingsvlakke onder en naby die stad. Van hierdie verskuiwingsvlakke is bedek en moeilik om op te spoor aldus ’n verklaring deur  Andrea Donnellan, geoloog in die wetenskap-afdeling van NASA se Jet Propulsion Laboratorium in Pasadena, Kalifornië.

Die studie is deur baie fyn instrumente uit ’n vliegtuig gedoen ná die aardbewing van 5,1 wat La Habra in 2014 getref het. Niemand is beseer nie, maar die $12 miljoen se skade was veel meer as wat van so ’n matige aardbewing verwag is. Die studie het bevind dat die skokgolwe deur ’n netwerk van verskuiwingsvlakke beweeg het, en selfs waar die aardbewing nie gevoel is nie, kon ondergrondse waterpype nog beskadig word.

In van die verskuiwingsvlakke onder Los Angeles is reeds aansienlike spanning opgebou.

*Wetenskaplikes hou die asem op vir wanneer die volgende groot aardbewing (in die orde van magnitude 8 of meer) deur die San Andreas-verskuiwingsvlak Kalifornië gaan tref. Die laaste grote het in 1906 San Francisco byna verwoes, en suid-Kalifornië se laaste grote was lank voor dit. Tog meen wetenskaplikes dié gebied word elke 110 tot 140 jaar deur ’n grote getref, en is dus nou “agter skedule.”

Bron: Christian Science Monitor
Bykomende bron: Smithsonian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rynhardt ·

Ek dink nie Kalifornie hoef twee jaar te wag vir n reuse aardbewing nie,ek dink hy gaan baie gouer plaasvind,en dit gaan tot groot sterftes lei.Ons leef reeds in die eindtye,wat talle mense nie besef nie.So,aardbewings gaan toeneem.Ek is net bly,ek bly nie in Kalifornie nie!

Arie plaasboer ·

ek het nogal respek vir opinies van mense wat noukeurige studies doen om oorsaak en gevolg bymekaar uit te bring. Ek let veral op na uitsprake van bv die US geological Survey.
Mense wat DINK dat hulle beter weet as erkende navorsers se opinies word verwerp met die minagting wat dit regverdig.

SNEL ·

What ever….die hele aarde sit op n tydbom, aardbewings, oorstromings, brande, sinkgate, vulkane, tsunami’s, siklone en wat nog meer. Ons kan dankbaar wees as niks ons tref nie. Wat help dit om te bekommer, sit, relax en geniet die dag, wie weet of ons nog oor twee jaar hier gaan wees om te sien hoe Kalifornië ruk en pluk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.