Louis Vuitton koop wêreld se tweede grootste diamant

Sewelô (Foto: Louis Vuitton)

Louis Vuitton het die wêreld se tweede grootste diamant, ʼn 1,758 karaat edelsteen genaamd Sewelô, aangeskaf.

Michael Burke, uitvoerende hoof van Louis Vuitton, wou nie bekendmaak hoeveel die maatskappy vir die diamant betaal het nie, maar het erken dat dit “miljoene” was. “Niemand verwag dat ons só groot klem sal plaas op duur juwele nie, maar ek dink dit sal die bedryf bietjie wakker skud.”

Die Sewelô-diamant is in April 2019 by die Karowe-myn in Botswana gemyn deur die Lucara-diamantmaatskappy. Die naam van die edelsteen beteken “seldsame vonds” in Tswana.

Louis Vuitton sal nou saam met HB Company, ʼn diamantvervaardiger van Antwerp, werk om die diamant te sny en te poleer in kleiner stene wat in ʼn versameling juweliersware bekendgestel gaan word.

Sewelô (Foto: Louis Vuitton)

Eira Thomas, president en uitvoerende hoof van Lucara, het gesê sy maatskappy sal ʼn vooraf betaling ontvang en 50% belang behou in die gepoleerde stene. Altesaam 5% van die handelsverkope uit die versameling sal ook “direk teruggeploeg word in Botswana deur gemeenskapsgebaseerde veldtogte”.

Die grootste ongeslypte diamant ooit was die 3,106 karaat Cullinan-diamant wat in 1905 in Suid-Afrika gemyn is. Dit is uiteindelik in nege stene opgesny. Twee van die groter stene, die Groot Ster van Afrika en die Tweede Ster van Afrika, is te sien in die kroonjuwele van die Verenigde Koninkryk.

Lucara het in 2015 die 1,109 karaat Lesedi La Rona-diamant gemyn. Dit was in daardie stadium die tweede grootste diamant ooit. Die Britse juwelier Graff het die steen vir $53 miljoen (ongeveer R761 miljoen) gekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerda ·

Maroela ek dink nie julle karaat vir albei stene is korrek nie

Sune van Heerden ·

Dagsê Gerda

Dankie vir jou boodskap.
Die karaat is inderdaad korrek – dit is bielies van diamante!
Sien gerus die verklaring deur Lucara-diamantmaatskappy oor Sewelô hier en sien gerus ook Mining.com se vrystellings oor die diamante hier. Inligting oor die Cullinan-diamant is hier beskikbaar.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Marinda ·

Hi, haal net die komma uit by die karaat grote, anders lees dit 1 punt ….. en 3 punt ….. karaat wat nie reg klink nie.

Kokketiel ·

Gryp ek nou my graaf, en spit verwoed, mens weet darem nooit

Graafie ·

NETSO… eka ‘join’ jou KOKKETIEL!! Maar óf ons emmers, groot genoeg, gaan wees… is ñ ánder vraag…

Pieterd ·

‘n Verbasende verhaal.
Ek wonder egter net oor die “diamantvervaardiger” in die berig. Vervaardig hulle regtig diamante?

Cherokee ·

..en is jy werklik Pieterd? Dit was tong in die kies gesê.. eintlik het jy ‘n raak vraag gevra oor die ‘diamantvervaardiger’. Dit behoort ‘n gesogte beroep te wees. Betreffende my eie mening oor die berig, ek hou nie daarvan om te lees dat die pragtige groot stene in stukke gesny word omdat dit meer waarde, vir meer geld verkoop kan word. Dit is soos om ‘n kunsskat in stukke te sny om meer kopers te lok.

Disselboom ·

Sien die “diamantvervaardiger”-woord slaan nou op meer plekke uit. Dis mos ‘n “diamantslyper” of ‘n “diamanthandelaar”, is dit nie? Weet ook nie of die so slim is om in Suid-Afrika die Amerikaanse gebruik van komma om duisende te skei, te gebruik nie. Ons ken die komma maar eerder as ‘n desimaal-aanduider.

Cobus Panther ·

As die komma1’758 verskyn dan dui dit korrek di gewig aan,onderaan is dit normaalweg gesien as desimaal…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.