LP’s neem beheer van Brexit

Britse LP’s het ʼn ongekende stap gedoen en beheer van laerhuissake vir die dag by eerste minister Theresa May oorgeneem. Dít in ʼn poging om ʼn oplossing te vind oor hoe om aan die Europese Unie te onttrek.

Die regering is vroeër met 329 stemme teenoor 302 verslaan, wat beteken LP’s kry Woensdag ʼn reeks stemme om te besluit watter soort Brexit hulle wil steun.

Die BBC berig egter May sê daar is geen waarborg dat sy by hulle besluit gaan hou nie.

ʼn Man betoog vroeër voor die parlement in Londen.(Foto: Frank Augstein, AP)

Leier van die Arbeidersparty Jeremy Corbyn, wat die wysiging van die Konserwatiewe Party se sir Oliver Letwin gesteun het, sê die regering “moet die proses ernstig opneem”.  Hy sê die regering het misluk en die laerhuis móét dus slaag om ʼn aanvaarbare skeidingsooreenkoms te beding.

Corbyn sê LP’s sal eenstemmigheid wil bereik oor hoe om die proses verder te voer. Dit sluit in ʼn moontlike “bevestigingstem” deur Britte. May was gekant hierteen omdat die opsie “Remain” op die stembrief sal verskyn.

Sy het vroeër probeer om ʼn nederlaag af te weer deur aan LP’s ʼn reeks Brexit-alternatiewe aan te bied waaroor hulle kon stem. Sy sê as LP’s toegelaat word om die laerhuis se agenda te beheer, sal dit ʼn “onwelkome presedent” skep.

Ondersteuners van Letwin se wysiging sê egter hulle maak nie daarop staat dat die regering LP’s gaan toelaat om insette te lewer oor die verskillende Brexit-opsies nie.

Altesaam 30 Tory-LP’s het teen die regering gestem. Dit sluit in drie ministers – Richard Harrington, Alistair Burt en Steve Brine – wat intussen uit hulle ministeriële poste bedank het.

Die BBC berig LP’s dreig dat ʼn herrie kan losbars as ʼn meerderheid van hulle stem vir die aanvaarding van ʼn Brexit-plan wat nié May s’n is nie en sy dit nietemin probeer ignoreer.

Die Verenigde Koninkryk se onttrekking aan die EU was veronderstel om op 29 Maart te gebeur, maar in die lig daarvan dat daar steeds nie saamgestem kan word oor die onttrekkingsooreenkoms nie, het May die leiers van die 27 oorblywende ledenasies vir uitstel gevra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Herman Goosen ·

Die Britte het ‘n reeks swakkelinge as leiers gehad die afgelope jare. Dink aan Brown, Major, Blair en nou May. Absolute swakkelinge wat baie Europese polities korrekte treetjies loop met min baldadige stappe om op etiese waardes te staan. May het ‘n absolute gemors reg van die begin af met Brexit gemaak en kry duidelik nie die boodskap by die EU oor watter opsies aanvaarbaar sal wees aldan nie. Sy gaan Brittanje ekonomies verswak en dan agter minder aantreklike lande vry wat strawwer handel voorwaardes sal stel omdat Brittanje in ‘n swak posisie is. LP’s doen die regte ding sedert sy duidelik nie van plan is om haar streke te laat vaar nie en die EU wil niks van dit wwet nie. Dus sal May geen geslaagde plan met die EU kry nie

waarheid ·

Jip wat jy saai sal jy maai…….
Kan nie wag dit die Britte tot ‘n val kom nie. Hulle wat altyd die vinger so gewys het.

Deon ·

Brittanje is een van SA se grootse handelsvenote. Indien hulle ekonomies verswak gaan dit ons ook tref.

Rupert Ashford ·

Die Britte sal nou moet rug styfmaak en dit laat gebeur. Hulle het hulleself in ‘n hoek vasgeverf deur te papbroekig te onderhandel (omdat die mense in beheer eintlik remainers is). Hulle kan ook nie teruggaan nie, want dan sal hulle vir altyd met minagting deur die EU behandel word. Staan nou vas, se vir die EU hoe julle gaan onttrek, en maak dan die beste van die saak en begin met almal handeldryf volgens WTO reels.

Therese van Schalkwyk ·

Stem volkome saam!
Genugtig, dis tog nie asof Brittanje géén leemte in die EU gaan laat nie. Hulle gaan seer sekerlik gemis word, was een van die reuse saam met Duitsland en Frankryk.
Die hele proses is regtig uiters swak hanteer van begin tot einde.

Annie Webb ·

Presies. Die meerderheid kiesers het VIR Brexit gestem, om spesifieke redes. Maar toe is die leiers wat die proses moet deurvoer, mense wat daarteen gestem het. Ook om hulle eie redes. Dis mos ‘n resep vir mislukking. En die EU skop juis vas omdat die proses hulle seerder gaan maak as vir Brittanje, veral omdat dit ander lande sal aanmoedig om ook te “…exit”. Die Europese Unie se administrasie met al sy vertakkinge is ‘n enorme burokrasie wat deur net hulself “verkies” word, net aan hulself verantwoording doen, en deur hulself baie, baie goed betaal word. Met die geld wat lidlande betaal vir “voordele” soos oop grense, bedoel vir vrye handel maar wat toe die nagmerrie van gedwonge migrante-instroming geword het. En die linkse wêreldmedia bevorder soos altyd net die nou erg wankelende globalisme en herverdeling van rykdom om gelyke uitkomste te bewerkstellig. Dis skrikwekkend dat die media se aanvanklike “goeie waghond”-rol uiteindelik fascistiese afdwing van één ideologie geword het. Maar die golf van teenstand bou steeds op en die kans dat dit gaan terugtrek, is nie goed nie. Die linkse ideologie het op sy beurt net té korrup en fascisties geraak.

ZAR ·

Die EU is gestig vir ‘n rede
Waarin het die EU verander?
Hoekom maak hulle dit onmoontlik om van af te skei?

Die EU is nou ‘n “gangsters’ paradise”
Hoe vinniger hulle terugkom na hul oorspronklike ideale, hoe beter.
Ongelukkig kan dit net begin sodra die een nasie na die ander daaruit onttrek en regulasies in plek gesit word om totale beheer te voorkom.

African sun ·

Jy weet blykbaar nie veel….. n Brit het die onttrekkingsprosedure vir die EU opgestel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.